Maak sosiale netwerke soos Twitter en Facebook ons behep met onsself?
Ons deel deesdae omtrent alles van ons lewe met ons vriende, kennisse en somtyds onbekendes via hierdie sosiale kanale. Ons vertel mekaar wat ons vir ontbyt gehad het, hoe ons gisteraand geslaap het, wat ons later vandag gaan doen.
IOL berig dat ons al meer behep met onsself raak en gevolglik bittermin aandag skenk aan byvoorbeeld die omgewing, aardverwarming, volksmoord in die Soedan...in ons sosiale netwerk-lewe blyk hierdie onderwerpe heeltemal onbelangrik teenoor onsself te wees.
Ek en my sokkie-krisis - ek kan nie twee vind wat pas nie! Wil jy ‘n video van my op YouTube sien waar ek nies? Kan ek brokkies nonsens vir jou tweet? Is ek mal, vra jy seker? Nee, ek is net ;n moderne Ek-Man.
Die Ek-Man en Ek-vrou is oral. Hulle is die miljoene mans en vroue, van elke klas, ouderdom en beroep wat oor hulself wil praat en hulself in besonderhede wil uitbeeld vir die wêreld.
Hulle blog en tweet en SMS die heeltyd. Die medium wat gebruik word kan varieer, maar die boodskap is altyd dieselfde: Ek. "Ek! Ek! Ek!" het die mantra geword. Daar is geen aspek van ons lewens, al is dit inkopielysies of liefdesdramas, wat nie met vreemdelinge gedeel word nie.
Wat dink jy?