Ek lees hom tans en sal later vandeesweek 'n resensie oor die Springbok-rugbykaptein se boek, Captain in the Cauldron - The John Smit Story, hier laai.
Ek is terloops nie 'n groot leser nie, maar buiten vir die lekker foto's en vetgedrukte letters, sal enige rugbyliefhebber hierdie boek geniet en insiggewend vind.
Daarom lê ek soggens terwyl my hond, Danie, homself op onbehoorlike plekke lek, graag 'n ekstra tydjie in om hierdie boek baas te raak.
Wat ek tot dusver geniet is dan Smit 'n idioot 'n idioot noem. En ten minste 'n vars en ingeligte menig oor dinge huldig - iets anders as die gereelde "dit is awesome" en "ons gee 110% vir die span" wat 'n man gereeld in sportgeledere hoor.
Só pak hy nogal uit teen diegene wat nog die ou landsvlag by rugbytoetse swaai en dié wat op tuisbodem (veral Nuweland) wedstryde met All Blacks-truie bywoon.
Ek het verlede week die voorreg gehad om by bekendstelling van die Springbok-sewesspan se 2009/10-seisoen te wees.
Daar raak ek en 'n kollega van 'n Sondagkoerant aan die gesels, en sy wys in die rigting van die een Sewesbok na die ander: "Ek het al met hom 'n onderhoud gedoen, en met hom, en met hom, en met hom, en daardie een kan nie duik nie, en met hom . . .".
"Bietjie windtie, tog 'n groot Suid-Afrikaner, dié vrou," dink ek by myself.
Maar enkele oomblikke later gooi sy die emmer yswater: "Oe, maar my All Blacks-trui lê by die huis. Dis my span daai".
En sy is nie al een nie. Smit sê in sy boek dat Nuweland die slegste "tuisveld" vir 'n toets teen die All Blacks is. Hoekom? Omdat 'n hengse klomp van die plaaslike ondersteuners swart pakkies aan het.
Hy sê voorts dat hy nie blind is vir die skeiding wat apartheid in rugbykringe veroorsaak het nie, maar dat die Bokke twee wêreldbekers en twee drienasies-titels later nie meer 'n toonbeeld van verdeeldheid is nie.
Vir wat moet plaaslike ondersteuners (sommiges jonger as 10 jaar) nog teen die wêreldkampioen én op dié se voorstoep met swart truie kom hanna-hanna?
Een van dié swartgalliges het vir my gesê dit is omdat die Nieu-Seelanders opheffingswerk in die townships kom doen wanneer hulle hier speel.
Liewe hemel! Wat moet die Bokke nog doen? Snorre se uitgangspunt is juis dat die Springbokke aan die mense behoort, en meer as 5 000 township-kinders van die Boland het vroeër vanjaar 'n afrigtingskliniek van die Bokke bygewoon.
Jannie Doep het sy onverdeelde aandag aan 'n groep laaities gegee wat hom heel agtermiddag ge-uncle-uncle het. En Bryan Habana het in 'n stadium onder 'n hopie tjokkertjies gelê wat vir ewig sal kan brêg dat hulle dié Bok-legende platgetrek het.
Wat is daar nog aan 'n All Blacks-trui vas te klou as die aanvanklike redes vir dié swaai nie vandag meer van toepassing is nie?
Prestasie is dit nie - die Bokke het die Kiwi's vanjaar goed opgedons.
Gebrekkige transformasie en/of uitsluiting is dit ook nie - JP Petersen kom oorspronklik van Cloetesville buite Stellenbosch. Dit is 'n arm maar trotse gemeenskap. Ongelukkig ook een met 'n hengse klomp Aussie- en Kiwi-ondersteuners.
Na my menig is dit bloot 'n ongegronde hardegatgeid en 'n geklou aan redes wat net vir hul ouers, oupa's en ouma's water gedra het.
Dieselfde geld vir diegene wat nog die ou landsvlag by toetse laat wapper. As daar 50 000 mense in 'n stadion is, is daar dalk 50 wat dink dié perde is oulik.
Ek besoek ander dag 'n skoolkennis se Vuisboek-profiel toe ek sien dat hy en 'n ongebonde vriendin vroegtydig 'n babatjie die lewe laat sien het. Sy politieke affiliasie: AWB!
Ouboet, word wakker! Jy en almal wat teen die nuwe bedeling kapsie maak, maar vas glo dat julle die stoerste Bok-ondersteuners onder die Afrika-son is.
Hierdie manne probeer voorhou dat hulle die "ware Suid-Afrika" op die hart dra, en dat dit wat hulle by toetse verteenwoordig 'n magtige, trotse en dapper vertoon van vaderlandsliefde is.
Maar soos 'n voormalige redakteur van Die Burger, Piet Cillié, op 'n tyd geskyf het: "Ware liefde is om nie weg te hardloop (van dit wat onaangenaam is nie), maar om dit reg in die oë te kyk, en ook dieper te kyk na 'n visioen van 'n Suid-Afrika sonder daardie gebreke . . . Wanneer ons sê ons het Suid-Afrika lief, moet dit beteken: nie net Suid-Afrika soos hy is nie, maar soos hy kan word; 'n land van ons eie en ander se hoogste drome."
Gooi weg jou vlag, en drop jou swart trui - in dié land is ons Bokke!