In die algemeen het ek nie daarmee 'n probleem nie, maar sedert 'n algemene praktisyn enigiemand kan wees wat geboortevelletjies met 'n geslypte springbokhoring of kameeldoring kan afsny, of mense op TV sê wie se wyle oupa of ouma (you never know) aan die "anderkant" op KykNet ingeskakel is, twyfel ek sterk oor die woord "algemeen".
Want ek het my eerste kar by 'n "betroubare algemene handelaar" gekoop - 'n woelige bottelgroen Golf III ('96-model), wat blykbaar aan die statige vrou van 'n afgetrede algemene praktisyn behoort het.
Dit is net so onder die twee jaar gelede, en drie motorbatterye, vier bande, twee lugfilters, etlike liters olie, twee koppelaarstelsels, drie koppelaarkabels, twee radiatorproppe, anti-awê-baie antifreeze en 'n onaanvaarbare hoeveelheid lelik-praat later.
Die voertuigpaaiement maak my maandelik sowat R1 000 seer, maar solank 'n man se wiele rol en ek 'n punkerige outjie, wat in sy pers Corsa wil dice, met min moeite in my uitlaatgasse kan laat stik, maak dit nie eintlik saak nie.
Ek wil met gemak by die huis kan kom, met gemak by die werk kan kom, met gemak op 'n modderpad kan ry, met gemak kan rally-rally speel op 'n stofpad, en met gemak my liefling by haar woonstel kan optel.
Maar in die "algemeen" maak 'n gemiddelde man se eerste kar en sy ondergemiddelde salaris (soos myne) hierdie gemaksugtigheid onmoontlik.
So ry ek twee weke gelede Velddrif toe om Vellies het Talent te beoordeel, maar met nog 103 km in die vooruitsig seg my kar genaamd Baxter: "Aikôna, Bossy, no more".
Die besigheid kook, die spoedleser sukkel om 30 kph te haal, en die koppelaar- en drukplaat skaaf yster teen yster. R1 500 later aanvaar ek my kar gaan my vandeesmaand R2 500 kos.
Terug in die Kaap gaan die kokery voort, en Baxter verwerp sy antifreeze soos iemand wat met die verkeerde bloedgroep aan die lewe gehou word.
Raadop gaan laai ek hom by General Motor Repairs af. "Meneer, dít lyk vir my na 'n thermostat en radiator cap wat m-rtoe is. En ons kan jou clutch-kabel ook fix."
"Nee," kap ek terug, "jy los my kabel. Die kar kos my reeds R2 500 dié maand."
Later die dag neffens my Wimpey-ontbyt lui my selfoon met Elvis se Return to Sender: "Meneer die total job kos net R400, maar ons het 'n kabel wat ons vir R300 kan doen."
Ek bel eers my pa vir bystand en laat weet die algemene werktuigkundige hy kan maar gooi.
Maar met opteltyd is Baxter sonder sitplekke, 'n stuurwiel of waardigheid gelaat staan.
"Meneer", en toe fluit die ou eers, "dis hoekom die kabel so slap is, Meneer. Daar binne moet 'n part gesweis word."
R1 000 later verneem ek my kar gaan my hierdie maand R3 500 kos.
Ek het Baxter gaan haal, maar die rempedaal had 'n steeksheid ontwikkel, die stuurwiel lê so 25 grade te kwaai na links, en dit klink of die mechanic sy raserige handlanger voor in die kar gelos het.
Sonder my beursie daag ek weer by die algemene werktuigkundige op: "Kyk, hier neuk nou drie heel nuwe dinge. Ek gaan nie betaal nie, want ek en my pa is teen dié tyd geldelik- en sielsongelukkig. Hier's wat fout is," en ek pak dit so eenvoudig moontlik vir die ou uit.
Dis 12:30 en 13:00 moet ek begin werk, maar nes die vorige aangeleentheid staan Baxter daar soos 'n hond wat se balletjies uitgehaal is.
Die ou met die blou broek stap om die draai: "Meneer, gee net gou kans la' ek my broodjie klaar eet, dan kyk ek gou wat fout is."
Ek kyk sy baas op 'n afstand nader, dié sê "Sorry, sorry, Meneer, alles sal môre reg wees, maar dit gaan R350 kos . . .
"Meneer, daardie geraas is nie my skuld nie, en ek het klaar die part bestel."
Steeds R3 500 later het ek my kar en sy nuwe part gaan haal, want in die algemeen betaal 'n mens nie vir sulke swak diens nie, en van hier af eet ek en my hond, Danie, tot die 25ste cornflakes.
- Vertel vir ons van jou eerste motor. En enige probleme :-) Stuur jou storie na jip@media24.com