www.jip.co.za

Die vele gedaantes van superhelde

Daar is mense wat tranerig word by die noem van Die Skim.


Omdat hulle van hom hou. Omdat hulle vir hom lief is. Omdat hulle dink hy lyk goed in daardie pers duikpak en blou-en-swart onderbroek.


Die Skim is Sondae in die koerant. Ek kon nog nooit uitmaak of hy ‘n superheld is nie. Gemeet aan sy buitengewoon oordrewe spiere en swak kleresmaak, is hy wel ‘n superheld. Maar ek het hom nog nooit sien vlieg of toor of verdwyn nie. Trouens, ek het hom nog nooit enigiets sien doen nie.


Uit gesprekke lei ek af dat Die Skim al lank in die tand is. Self is ek al vir meer as 30 jaar van sy bestaan bewus. En toe ek hom leer ken het, was hy al mooi groot. Wat ek egter nie kan verstaan nie, is wat hy doen. Dit moet die verhaallyn wees wat die stadigste in menseheugenis ontvou. Ek dink nie eens die karakters onthou altyd wat aangaan nie.


Elke Sondag ontdek iemand - gewoonlik iewers in ‘n oerwoud of in die woestyn - ‘n nuwe tergende raaisel: Kopbene in ‘n tas of iets met onverklaarbare magte of ‘n stuk gemufde komkommer agter in die yskas. Dan, elke vierde keer, slaan Die Skim iemand - altyd iemand met ‘n verskuilde agenda of ‘n inboorling - dat hy doer trek. Andersins lê Die Skim iewers in ‘n onontdekte piramide of tempel of deurmekaar motorhuis vasgebind met dik toue. Dan wonder almal of hy betyds uit dié penarie sal kan kom om die boewe vas te trek. Omdat die storie teen drie sinne elke Sondag ontwikkel, neem dit etlike jare voordat daar uitsluitsel hieroor is.


Daar is ook ‘n vrou in safariklere wat my so effens aan Lois Lane van Superman herinner - sy steek haar neus in waar dit nie nodig is nie en torring en karring totdat sy so diep in die moeilikheid is dat net iemand in ‘n pers duikpak haar kan red.


Ten spyte hiervan is Die Skim omtrent almal bo dertig se held. Hy is sterker as Chuck Norris, het meer spiere as The Lone Ranger en mag dalk of dalk nie oor superkragte beskik. Die feit dat hy twee pistole saamdra, is natuurlik ‘n aanduiding dat hy nie oor superkragte beskik nie...


Met behulp van my eie superkrag (slim vermom as Die Internet) kon ek vasstel dat Die Skim meer as 70 jaar gelede as The Phantom ontstaan het. En die feit dat dat geslagte superhelde hul onderbroeke bo-oor stywe pakkies dra, is aan einste Die Skim te danke.


Die Skim is ‘n oorerflike titel wat van pa na seun oorgedra word. Op dié manier word die illusie geskep dat Die Skim nie kan doodgaan nie. Die feit dat sy storie so stadig vorentoe gaan, is seker nie sy skuld nie.


Die beste deel van Die Skim is dat dit elke keer soos ‘n regte sepie eindig met ‘n voorskou van wat volgende gaan gebeur. Volgende: Op die spoor van die waarheid! Volgende: Die Skim gee een tree vorentoe en sê ‘n halwe sin! Volgende: Die Skim voltooi laasweek se sin en knip sy oë!


Dis nie dat ek nie van Die Skim hou nie, ek het immers pas ‘n hele psalm in tipiese Skim-styl voltooi - dit gaan nêrens heen nie. Die eintlike ding is net dat ek, toe ek op die internet na Die Skim gesoek het, op ‘n website oor die ThunderCats afgekom het.


Die ThunderCats was nog altyd my gunsteling-cartoon, behalwe vir daardie klein rukkie toe Biker Mice from Mars oorgeneem het. Ek en die broers was so mal oor die ThunderCats dat ons ‘n ThunderCats-speletjie uitgedink het. Dit was ‘n epiese saga wat hom oor baie naweke afgespeel het. Dit het basies daaruit bestaan dat ons vir ure lank stry oor wie watter karakter vertolk en dan vir ‘n nog ‘n paar uur oor wie waar ‘n hoofkwartier mag inrig. Nou dat ek daaraan dink, was dit maar baie soos Die Skim: Dit het nie eintlik iewers heen gegaan nie, maar dit het ons eindelose plesier verskaf.


Volgende week: Kan getroue lesers ‘n sinvolle bespreking verwag...?


 



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.