Dit was nie soseer die polisiebeamptes buite die parlement wat op 'n haar na soos At Botha (die ou met die swaar snor in die sepies wat lyk of hy almal insluitend die regisseur en die waterkan wil bydam) gelyk het wat my, Herfsman, supergewilde Suid-Afrikaanse superheld, verlede Donderdagaand ontsenu het nie.
Dit was die president en sy komende staatsrede.
Kyk, ek en die president kom al 'n lang pad saam. Ek het altyd nogal gedink ek verstaan hom effe. Selfs sy onblusbare lus . . . onlusbare blus . . . uhm, onrusbarende bus . . . hehe . . . anyway, sy liefde vir vroue.
Maar toe hy die rappers, Die Antwoord, wou kry om die staatsrede namens hom te lewer, het ek nie lekker geweet wat om te sê nie.
Aangesien ek die waarnemende minister van finansies was (Pravin Gordhan het huis toe gegaan omdat iemand gesê het hy lyk soos 'n moerse budgie) het Zuma my vir my mening genader.
"Ek dink ek kan, soos almal anders, 'n paar flou woordspelings maak met Die Antwoord se naam, maar tog voel ek nie dit is die . . . oplossing nie, meneer die president."
Dit was meestal omdat ek geglo het dit sou moeilik wees om twee uur lank paarrym toe te pas (probeer bietjie eendag; ek het al; dis moeilik), maar ook omdat ek al opgelet het dat van die DA se parlementslede soos alle Afrikaanse mense se ma lyk.
En ma's hou nie van Die Antwoord nie.
Zuma kon egter nie anders oortuig word nie.
So daar staan ek toe in die galery terwyl Zuma na die podium stap.
"Ladies and gentlemen," begin hy toe, "Sawubona. I present to you Die Antwoord, my blaar!"
Waaragtig, daar kom die Ninja, Yo-Landi Vi$er en DJ Hi-Tek tot op die podium.
Ninja gooi toe met so 'n heavy reverb-eggo en 'n gepaardgaande sintetiese basnoot: "Nkosi sikelel' iAfrika . . . ninja!"
Gelukkig het hy en Yo-Landi daarna geruime tyd net ge-rap oor wat hul name is (wel, alle rappers doen dit) voordat hulle tot by 'n punt kon kom.
Dit was ses uur later.
En almal is toe al huis toe.
Behalwe die president.
"Hulle het nooit eens my Irvin Khoza-grappie ge-rap nie," het Zuma gesnik.
(Hy het 'n bedanking vir Irvin, 2010-grootkop en ook heeltemal toevallig die oupa van sy 20ste kind, ingewerk.)
Ek het my skouers opgetrek en 'n sigaret opgesteek.
"Dis dalk maar beter so . . . my blaar," het ek gesê en my besigheidsblaartjie in sy hand gestop.