Hierdie Maandag in JIP vertel ons jou oor al die moets en moenies van dates en 'n paar celebs vertel ook van hul eie flaters. Lees solank hier en kry Maandag nog!
'n Paar flaters om te vermy
* Bly weg van enige soort kos wat klein pitte het of iets soos spinasie wat maklik in jou tande kan vassit - en dit is ook as jy gaan eet voordat jy uitgaan en nie kans gaan kry om tande te borsel nie. Jou date mag net dalk bietjie gril as jy glimlag. Kom maar eerder voor die tyd by 'n spieël uit.
* Raak voor die date ontslae van jou kougom. Dit help om jou asem lekker te laat ruik, maar as dit lyk of jy herkou deur die date, gaan jy net dalk nie weer nog ene kry nie.
* Moenie die hele tyd op jou selfoon praat nie. Tensy dit natuurlik 'n dringende oproep is. Maar as jou beste vriendin bloot bel om te vertel sy het vir die soveelste keer Twiligh t gekyk . . . wel, daarvoor het jou selfoon stempos en kan jy later jou e-pos check.
* Vuil hare is nie cool nie. Persoonlike higiëne is.
* Moenie so cool probeer wees dat jy platvloers klink nie. As jy kliphard praat sodat almal kan hoor hoe oulik jy is of jou date probeer beïndruk met hoe cool jy die kelner kan tune . . . net jy gaan van daardie tune hou.
Louis Janse van Rensburg, ekhouvanjou,okay!
Louis het vir JIP vertel: "Ek het 'n meisie op Facebook ontmoet (en sal dit nooit weer doen nie), toe moes ek gaan om haar te ontmoet. Ek het nie geweet hoe sy lyk nie, maar het geweet sy was blond. Toe is daar 'n meisie op dieselfde plek waar sy vir my wag, wat ook blond was, toe stap ek na haar toe met 'n presentjie . . . die meisie was super uitgefreak en het net weggestap. Darem het ek toe die meisie ontmoet . . . maar niks het daarvan gekom nie."
Anthonie Bougas vertel meer oor 'n date flater:
'n Paar maande terug het ek 'n meisie ontmoet en onmiddelik geweet sy was die een vir my. Sy was absoluut pragtig en alles wat ek in 'n meisie wou hê. In die begin was dit duidelik dat sy nie in my belangstel nie, maar dit het my nie afgesit nie. Ná 'n paar bosse blomme en laat aand oproepe het ons uiteindelik begin uitgaan.
Sy was toe saam met haar familie op vakansie en ek het besluit dit was die PERFEKTE geleentheid om my romantiese kant vir haar te wys. Ek het vir my 'n kaartjie bespreek en op die eerste vliegtuig gespring op pad na haar toe. Sy was natuurlik BAIE verbaas om my aan die ander kant van die wêreld te sien, maar ek kon sien my plan het uitgewerk nes ek wou hê dit moes.
Die vierde aand het ons heerlik by 'n eksotiese restaurant gekuier waar hulle allerande interessante disse en drankies vir jou aandra. Hulle neem dit baie persoonlik as jy nee sê, so ek het maar alles geproe wat hulle vir my gegee het. Ek is glad nie 'n alkohol drinker nie, maar omdat ek in 'n vreemde land was en ek nie kon verstaan wat die mense vir my aanbied nie, het ek nie besef dat daar wel alkohol in my "vrugte sappie" was nie. Ná 'n paar van daai sappies was ek 'n bietjie lighoofdig en alles om my was 'n bietjie onduidelik. Toe ek uitreik om haar hand te neem, het ek haar hele drankie omgestamp en haar spinternuwe spierwit rok bloedrooi gevlek. Ek kon sien sy was verstom en hoe meer ek vir haar probeer verduidelik dat rooi die kleur van haar oë uitbring, hoe kwater het sy vir my geraak. Sy het trane in haar oë gekry en toe die tafel verlaat.
Ná nog 'n sappie kon ek voel ek was ewe skielik in 'n baie goeie bui.
Toe sy terug kom het haar stem effens gebewe en sy het vir my gesê dat ons ernstig moes praat. Ek kon hoor hier kom moeilikheid maar ek was verbasend kalm. Sy het gesê sy dink dit is beter as ons net vriende bly maar ek kon sien dat dit vir altyd verby was. In my hart kon ek voel dat ek diep seergemaak was, maar wat uit my mond uitgekom het was iets heeltemal anders. Ek het vir haar gesê dat dit die beste besluit wat in 'n lang tyd geneem is, dat dit glad nie 'n problem is nie en dat ek 100% saam met haar stem. Dit was asof ek my woorde nie kon keer nie.
Toe ek de volgende oggend wakkerskrik, het ek terug gedink aan die vorige aand se gebeurtenisse. Ek kon nie glo dat ek alles net aanvaar het nie en ek was seergemaak dat sy my so behandel na al die moeite wat ek gedoen het. Ek het besef dat my plan lekker in my gesig opgeblaas het en die ergste van als was dat daar nog 'n hele week oor gebly het en ek wou dringend huis toe gaan. Ek het huis toe gebel en vir my ouers alles vertel en hulle het saamgestem dat dit tyd was om huis toe te kom. Ek het onmiddelik my vlug verander en begin pak.
Toe ek vir haar verduidelik dat ek huis toe wou gaan en dat ek eintlik baie kwaad vir haar was, het sy in trane uitgebars en vir my gesê dat sy 'n fout gemaak het en dat sy nie net vriende wou wees nie. Duidelik was ek nie die enigste een wat besef het hulle het 'n fout gemaak nie, maar dit was ongelukkig te laat. Ek wou huis toe gaan en dit was dit.
Na die hele drama het ek myself 2 dinge belowe. 1- Dat ek nooit weer onverwags half pad oor die wêreld sal vlieg nie en 2- dat ek nooit weer vreemde sappies van vreemde mense sal neem nie.