www.jip.co.za

Dagboek van 'n superheld

Dit was 'n bedompige, mistige nag in Nelspruit.

Ek, Herfsman, superbekende Suid-Afrikaanse superheld, het 'n paar herfsblare die lug in gewerp om die windspoed te toets.

Soos die blare grondwaarts gedwarrel het, het twee figure in die mis herkenbaar geword. Dit was iemand van die munisipaliteit van Nelspruit en een van my aartsvyande wie se naam ek altyd vergeet . . . Malman, of Mallemeuleman, so iets. Hy maak geraas vir die ANC se jeugliga en aanvaar graag tenders om onder meer brûe te bou (ironies genoeg) en so aan deur sy status.

Die munisipale beampte het 'n bruin koevert aan die Malman oorhandig, waarop die Malman spontaan met 'n luidkeelse weergawe van "Love me Tender, Love me True" losgebars het.

Ek was net gereed om hulle te bespring en die Malman se lied met my eie vreesinboesemingslied, "Eye of The Tiger", te begroet deur die play-knoppie op die Walkman aan my belt te druk, toe ek voorgespring word.

Letterlik. Een van my oudkollegas, Arm-man, het voor my ingespring.

Arm-man is so gedoop weens sy glorieryke bo-arms. Hy is egter herhaaldelik verkeerdelik aangesien as 'n arm man en die arme man het dus die arm man-persona aangeneem en vir ander arm mans baklei met sy arms, man.

"Malman, ek het jou red-handed gevang! Die revolusie begin nou!" het Arm-man gegil.

Malman het verskrik na sy eie hande gekyk.

"No, they're still black," het hy gesê. "And I am the revolution."

"Nee, ek is."

"I am."

"Ek is."

"I am."

Vir 'n goeie uur of twee het hulle op hierdie trant aangehou en ook mettertyd liggies aan mekaar begin stamp.
Net toe ek weer wou inspring, het 'n verbyvlieënde mantel se gewapper my ontstig.

Dit was my oudkollega en oud-lover, Taalnimf.

"Een persoon kan nie 'n revolusie wees nie," het sy gebulder en haar allerpragtigste borskas trots uitgestoot met hande op die heupe.
"Ideologiese implikasies ter syde is dit bloot taalkundig verkeerd."

Ek was lankal lus vir 'n teug uit my half-jack, maar Taalnimf se teenwoordigheid het dit versterk. Toe nóg 'n oudkollega, Weerwolf ('n wolf met die mag om die weer te voorspel), ewe skielik sy opwagting maak, het ek maar 'n sigaret opgesteek, gesit en gedrink.

"Dit is hoogs onwaarskynlik dat dit terselfdertyd mistig en bedompig sal wees, soos hierdie situasie van die begin afspeel. Asook dat die wind kwansuis sou waai."

Almal het hom verward aangestaar.

"Mwoohahaha," het hy skaam en verbouereerd gegiggel.

Arm-man en Malman het mekaar toe weer ingevlieg. Nóg 'n oudkollega van my, Postapartheidman, het ook toe 'n vlugtige verskyning gemaak.

"Ek is jammer! " het hy geroep en toe weer weggehardloop.

En ek? Soos ek aan my sigaret sit en teug en die spul bekyk het, het ek gedink oor hoe die klomp mekaar invlieg in hierdie lang aanloop tot die Wêreldbeker-sokkertoernooi.

Want, demmit, dis darem veel vermaakliker as 'n sokkerwedstryd.



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.