www.jip.co.za

Cravenweek: Nog jonges kry kans

Minstens tien rugbyspelers wat nie Saterdag hier in die Suid-Afrikaanse Skolespan opgeneem is nie, sal nog vandeesmaand die kans kry om 'n kleim af te steek om die Groen-en-Goud teen Frankryk, Namibië en Engeland te dra.


Die Skolespan van 22 spelers sal na verwagting in die laaste week van Julie of vroeg in Augustus teen Namibië se o.19-span speel.


Maar benewens dié span word 'n Elite-groep van 32 spelers ook aangewys.


Hulle kom reeds aanstaande Maandag in Oos-Londen byeen en speel op 16, 20 en 23 Julie teen bogenoemde lande se o.18-spanne.


Die nasionale Skolespan is hoofsaaklik op grond van individue se vertonings in verlede week se Cravenweek hier gekies en sal net 'n enkele vertoonwedstryd speel.


Die Elite-groep is deel van 'n langtermynplan om moontlike Springbokke te identifiseer en van jongs af te kondisioneer.


Spelers hoef nie op die Cravenweek te gespeel het om vir die Elite-groep in aanmerking te kom nie.


Die verwagting is dat een of twee spelers wat op die nasionale Akademie-week in Vryheid uitgeblink het, ook in hierdie uitgelese groep sal wees.


Dieselfde geld moontlike toekomstige Springbokke wat kort voor die Cravenweek beseer is, maar reeds herstel het.


Na verneem word, sal twee spelers per posisie gekies word, asook nog twee - dalk in spesialis-posisies, soos in die voorry.


Die SA Rugbyunie (Saru) se Piekprestasie-program onder leiding van Herman Masimla sluit nie net hierdie o.18-groep in nie.


Ook op die Grant Khomo-week vir o.16-spanne is 50 spelers geïdentifiseer wat in September onder leiding van die land se nasionale afrigters posisie-spesifieke afrigting sal ontvang.


Hulle sal na verwagting vandeesweek saam met die o.18-groep bekend gemaak word.


Ná die provinsiale o.19-reeks later vanjaar word 'n groep van 45 spelers aangewys om teen Frank­ryk en Argentinië se o.19-spanne te speel.


Om die SA Skolespan te haal, bly straks die grootste eer wat 'n speler op o.18-vlak te beurt kan val.


Die program is dus ontwerp om spelers reeds vanaf o.16-vlak te ontwikkel en te ondersteun, hulle blootstelling aan internasionale mededinging te gee en mettertyd Bokke of bogemiddelde senior professionele spelers te maak.


Maar vir daardie jong spelers wat oor die hoof gesien is vir dié span, beteken dit beslis nie die einde van hul Springbok-drome nie.


Die SA skolespan is: Craig Barry (WP), Jean-Paul Lewis (WP), William Small-Smith (k, Cheetahs), Andile Jho (Grens), Leroy Bitterhout (Boland), Johan Goosen (Cheetahs), Poerie van Rooyen (Blou Bulle), Nardus van der Walt (Blou Bulle), Sikhumbuzo Notshe (WP), Khaya Majola (KwaZulu-Natal), Ruan Botha (Valke), Ruan Venter (Leeus), Allan Dell (Grens), Jason Thomas (OP), Steven Kitshoff (WP).


PLAASVERVANGERS: Anrich Bitzi (Cheetahs), Neethling Fouché (Cheetahs), Schalk van Heerden (Blou Bulle), Wiaan Liebenberg (Boland), Kevin Luiters (Cheetahs), Paul Jordaan (Cheetahs), Tshotsho Mbovane (WP).


In Saterdag se hoofwedstryd van die Cravenweek-toernooi het die Vrystaat, ná sy gemiddelde vertonings vroeër die week, die WP met 42-21 geklop.


Die jong Vrystaters is vooraf nie juis 'n kans teen die hoog aangeskrewe Streeptruie gegee nie.


Maar die Kapenaars was moontlik oorgerus of te bewus daarvan dat 'n paar plekke in die nasionale span nog vakant was.


Die meeste van hul senior spelers het ongewoon senuweeagtig voorgekom, terwyl veral Johan Goosen, die Vrystaat-losskakel wat 22 punte aangeteken het, op sy heel beste was.


 



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.