www.jip.co.za

Cage oortuig met donker anti-held

Bad Lieutenant: Port of Call New Orleans
Misdaadkomedie


Met: Nicolas Cage, Evan Mendes.
Regie: Werner Herzog.

Terrence McDonagh het probleme, gróót probleme.

Terrence, soos vertolk deur Nicolas Cage (en wat 'n vertolking is dit nie!), is 'n polisieman in New Orleans wie se lewe en loopbaan aan 'n draadjie hang. Sy meisie is 'n prostituut, sy rug is kas toe danksy 'n ondeurdagte reddingspoging en hy sien (fiktiewe) iguanas net waar hy gaan.

En aarde, dis moeilik om hom te plaas. Aan die een kant is hy 'n volslae dwelmkop, die soort wat kokaïen uit sy departement se bewyse-kluis steel. Andersyds is hy obsessief gesteld op reg, geregtigheid en die wettige prosedures wat dit vergesel.

Aanvanklik dink jy dit is een van daardie gevalle waar die karakter bloot twee stelle reëls het: een vir homself en een vir ander mense. Maar dis meer as dit. Dis asof hier 'n sielkundige stryd tussen goed en kwaad woed, asof daar 'n duiwel én engel by hom uitkamp, een op elke skouer, en hom bulderend aanhits.

Wanneer hy op 'n dag teenoor iemand herken hy het "slegte dae", besef jy hy bedoel nie die gewone afdag nie, maar hy verwys na daardie dae wanneer die slegte impulse die oorhand kry.

Terrence leef op impulse en dit is potensieel vernietigend. Wanneer 'n familie Senegalese deur 'n dwelmbaas uitgemoor word, vat hy egter die spoor en dié pad neem hom kruis, dwars en onderdeur die pad van geregtigheid.
'n Meer onvoorspelbare karakter (en draaiboek, noudat ek daaraan dink) het ek lanklaas teëgekom. Jy weet net nooit wat Ter­rence volgende gaan aanvang nie. Jy bid net dat nie te veel (goeie) mense seerkry in die proses nie.

Cage se spel hier is die beste wat hy in jare, dalk dekades, gelewer het. 'n Mens kan uitkyk na sy naam teen die tyd dat pryse volgende jaar toegeken word. Hy maak van sy karakter 'n mankolieke anti-held met 'n psigotiese streep wat jou uiters ongemaklik laat rondskuif.

Tekenend het die mees gespanne oomblik in die fliek niks met 'n geskietery of dwelmbase te doen nie. Jy vind dit in Terrence se konfrontasie met twee bejaarde vroue, in die doodsmasker wat skielik oor sy gesig skuif, en die wete dat hier gróót moeilikheid in aantog is.
Die fliek word verkoop as 'n misdaad-riller, maar dis meer 'n donker aksie-komedie in die styl van die Coen-broers, of iets soos
moerasagtige film noir.

Die regisseur Werner Herzog speel los en vas met die kyker se verwagtings: Moenie dink jy sal ooit raai hoe dié verhaal gaan ontknoop nie. Hou maar net asem op dat jý nie eendag in 'n platpoot soos hierdie se verkeerde boekies beland nie.


Ouderdomsperk: 16TSDG.
Tydsduur: 120 minute


 



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.