Dit lyk nie of die Gautengse onderwysdepartement enigsins van plan is om op te hou inmeng by die funksionering van skoolbeheerliggame nie.
So meen die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) na aanleiding van 'n omsendbrief wat die departement onlangs aan skole gestuur het.
Omgekrapte hoofde het ook by Beeld oor dié brief gekla.
Volgens me. Melanie Buys, Fedsas se provinsiale bestuurder in Gauteng, bevat die brief omvattende riglyne rakende skole se toelatingsbeleid, wat volgens die Skolewet die verantwoordelikheid van die beheerliggaam is.
Die brief maak melding dat skole voorkeur moet gee aan leerlinge wat in die skole se onmiddellike "geografiese gebied" woon of wie se ouers in dié gebied werksaam is.
Dié leerlinge word op 'n sogenaamde waglys A geplaas en leerlinge wat nie aan dié en ander vereistes voldoen nie, op 'n waglys B.
Volgens Buys stel die Skolewet dit duidelik dat 'n onderwysdepartement nie toelatingskriteria mag voorskryf nie.
Fedsas hét al sy besware oor die brief aan die departement gestuur.
Fedsas wys daarop dat enige brief wat 'n onderwyshoof uitstuur net kan handel oor die wyse waarop aansoek om toelating gedoen moet word. Dit kan nié die kriteria bepaal nie.
Fedsas het voorts gesê die inhoud van paragrawe wat handel oor die waglyste gaan verder as oor hoe aansoek gedoen moet word en wil kriteria voorskryf wat nie ingevolge wetgewing geldig is nie.
Volgens Fedsas is daar ook 'n probleem rondom die datum wat vir herregistrasie gestel word.
Buys het gesê die omsendbrief aan skole is teen die wet en Fedsas het sy lede aangeraai om soos normaalweg met die registrasieproses vir volgende jaar voort te gaan totdat daar uitsluitsel oor die saak is.
Fedsas het hom ook uitgespreek oor die feit dat daar nêrens in die omsendbrief gemeld word dat amptenare beheerliggame se funksies rakende toelatings moet erken of respekteer nie.
Die departement het in reaksie gesê dit is jammer dat Fedsas sy sienings in die media opper terwyl hy aan verskeie vergaderings met die departement deelgeneem het.
"Die departement het Fedsas se sienings in 'n gees van konsultasie en koöperatiewe beheer geakkommodeer. Fedsas was nie by die laaste vergadering teenwoordig waar in die teenwoordigheid van vyf skoolbeheerliggaam-verenigings finaal oor die omsendbrief besluit en dit onderteken is nie."
Die departement bly verbind tot goeie beheer en sal verder by belangegroepe betrokke raak as dit nodig sou wees, lui sy verklaring.