www.jip.co.za

Breëbors Bobby

Die aantreklike jong sanger Bobby van Jaarsveld tree binnekort in die Rosestad op en het met Clarissa Grobler oor sy loopbaan en musiek gesels.

Jy word vanjaar 23 en sing al vandat jy 14 is. Hoe uitdagend is dit om op so 'n jong ouderdom gehore aan te durf? En wat sou jy sê is die belangrikste om in gedagte te hou as jy reeds op 'n jong ouderdom 'n sangloopbaan wil aanpak?

Ek glo dat dit ondervinding is wat met tyd kom. Aanvanklik was dit baie scary, maar nou is dit baie beter. Die belangrikste is om te onthou dat dit 'n langtermyn-projek is. Niks gebeur oornag nie. Jy moet bereid wees om baie hard te werk en te weet dat dit baie lank kan vat voordat iets gaan gebeur. Ek glo egter dat harde werk en uithouvermoë op die einde sukses sal bring as jy werklik talent het. Harde werk is 90% en talent 10%.

Jy het optredes op Skouspel en 'n rits benoemings agter jou naam, onder meer DKNT se kykers se gunsteling-kunstenaar vir 2009. Wat wil jy graag volgende bereik?

Ek wil bitter graag sien dat my nuwe album dubbelplatinum-status bereik. Dit het nou platinum-status bereik. Ek sal ook graag op 'n internasionale verhoog wil sing saam met mense soos Kelly Clarkson.

Vertel ons 'n bietjie van daardie interessante musiekvideo vir "Spieëltjie".

Die liedjie self gaan oor hoe mense jou sien. Dit gaan oor hoe jy jouself sien - wat mense se persepsie van jou as mens is. Die musiekvideo vertel die storie van hoe 'n man 'n meisie ontmoet deur die eienaar van die ander helfte van die spieël te kry. Die spieël het die man gefassineer, en die meisie het dit met opset daar gesit en gehoop hy tel dit op sodat sy 'n aanknopingspunt kan kry om met hom in aanraking te kom . . .

Vertel ons ook meer van jou rol in Liefling? Jy noem in jou nuusbrief dat jy ook daarin dans.

Liefling is 'n baie mooi en skoon liefdesverhaal met absoluut geen lelike taal of enige vorm van afstootlikheid nie. Net 'n bitter mooi liefdesverhaal. Dit is 'n musiekprent waarin daar ook gedans word. Dit was baie interessant vir my, want ek het twee linkervoete . . .

As wat wil jy nie ge-label word nie?

Verwaand en onbetroubaar.

Jy tree 20 Februarie in die Kovsie-kerk op. Wat kan die gehoor alles van die show verwag?

Ek tree op saam met 'n orkes, en ons vertoning bevat iets van alles. Ek doen liedjies van my nuwe album, maar doen ook 'n bietjie swing- musiek en ook gospel.
Ons vertoning het verskeidenheid.



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.