Die o.16-netbalspan van die Hoërskool Brandwag in Uitenhage vertrek op 29 Julie na Boksburg om aan die Suid-Afrikaanse skole-uitdaging daar deel te neem.
Dié o.16 A-span, wat sedert die betrokke spelers se o.14-jaar in ligawedstryde onoorwonne is, het alle opposisie in die Oos-Kaap van die baan gevee vir die kans om nasionaal mee te ding.
Ses spelers uit die o.16-groep verteenwoordig ook die Oostelike Provinsie in netbal, naamlik Zene Jonker, Kara Willemse, Marisa Meuwesen en Kelly van Rooyen (almal OP o.16), en Megan Lake en Monique Williams (OP o.15).
Ook twee o.14-netbalspelers van Brandwag, Yolande Willemse en Robyn Titus, verteenwoordig die Oostelike Provinsie.
Brandwag het verder tans ses leerders wat provinsiale netbalskeidsregters is. Selde ontvang skeidsregters met die eerste geleentheid 'n gradering. Indien dit wel gebeur, is dit gewoonlik 'n E-gradering. Uit die ses leerders wat 'n gradering ontvang het, het vier 'n D-gradering en twee 'n C-gradering gekry.
Megan Lake, Jessi Kotze, Anja Nel en Mecaela Klue is OP D-skeidsregters, en Monique Williams en Zene Jonker het 'n OP C-gradering behaal.
Drie van die leerders, naamlik Anja Nel, Jessi Kotze en Mecaela Klue, is gevra om as skeidsregters op te tree in die Suid-Afrikaanse skole-netbaltoernooi in Augustus in Boksburg.
Ook Brandwag se netbalafrigters laat nie op hulle wag nie, en twee van hulle is SA skeidsregters.
Mev. Karen Schonken (die afrigter van Brandwag se eerste span) het 'n SA C-gradering en mev. Alida Duvenhage (Brandwag se o.16 A- en o.16 B-afrigter) 'n SA B+-gradering.
Brandwag se eerste en tweede span, asook die o.16 A- en die o.16 B-span, het onlangs met Nico Malan afgereken in hul laaste wedstryde van die tweede kwartaal.
Die eerste span het met 27-22 gewen, die o.16 A's het met 24-10 geseëvier en die o.16 B's met 31-11. Die tweede span het met 19 elk gelykop gespeel.