www.jip.co.za

Brand hom, Poeksie!


Die scene: Jy cruise in jou mambagroen 1969 Plymouth Barracuda die straat af. Op soek na girls/dudes/moeilikheid. Jy is so cool dat episodes van Top Gear en West Coast Customs soos stof agter jou opwarrel.

Rewind en druk weer play: Jy dryf in jou 1969 Plymouth Snoek die straat af...

Ja, perspektief. Nie ‘n maklike ding om te kry nie. Veral nie sonder kragtige chemiese bystand van byvoorbeeld groen Fizzers of Skittles nie. Maar dis ook nie altyd so moeilik nie. Jy hoef nie noodwendig Zen te gaan nie. Ook nie bos nie.

Soms is ‘n blote vertaling al wat nodig is. Jou hele idee van die ultimate muscle car verander in ‘n oogwink wanneer jy besef dat ‘n barracuda ‘n doodgewone ou snoek is.

Gaaf, as jy dan nou wil hare kloof: Eintlik is ‘n barracouta ‘n snoek. Maar dit los nie eintlik jou probleem op nie, want ‘n lekker Afrikaanse vertaling vir barracuda is katonkel. En wil jy regtig enige plek heen cruise in jou 1969 Plymouth Katonkel?!

Dis soos om in ‘n parallelle heelal te beland. Ek reken enige petrol head sal spring vir die kans om sy (of haar) Ford Mustang by ‘n rooi lig te rev. Of dit dieselfde effek in die Ford Prêrieperd het, sal ons seker nooit weet nie. Arme Ford. Sal hulle ooit iets verkoop het as ons moes kies tussen die Ford Speurhond en die Ford Sterrestelsel? Ná die Ford Grondgebied het hulle onlangs met die Ford Everest vorendag gekom.

‘n Mens wonder of hulle ander berge en heuwels ook oorweeg het. Dalk die Ford Tafelberg - perfek vir ‘n piekniek. Of die Ford Voortrekkerhoogte - ‘n ossewa vir ‘n nuwe geslag.

Gelukkig is daar taai kompetisie in die vorm van die Subaru Boswagter en die Jeep Perdekneg. En as Land Rover in ag neem dat "rover" ook kan verwys na ‘n onbestendige minnaar... Wel, dan is dit seker goedkoper om te belê in die Chevrolet Swierbol. Ja, dit blyk ‘n "spark" is meer as net ‘n vonk...

En jy wat daar in jou stupid klein Daihatsu sit en giggel - besef jy dat "charade" verwys na ‘n belaglike voorstelling? ‘n Mens wil-wil postuleer dat die Daihatsu Charade darem ‘n belaglike voorstelling van ‘n kar is...

Maar gelukkig weet ‘n mens nie wat postuleer beteken nie.

Sien, perspektief. En sommer so sonder enige inspanning. Die probleem is net dat jy soms vergeet dat jy jouself ook uit ‘n ander perspektief kan beskou. Is ek die eienaar van ‘n Mitsubishi Lancer en ‘n Honda CBX250 Twister? Of is dit ‘n Mitsubishi Lansdraer en ‘n goudgeel Honda Tweegatjakkals?

Brand hom, Poeksie!




www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.