www.jip.co.za

Brad is te wonderlik vir woorde, sê Jolie

Die Amerikaanse aktrise Angelina Jolie, wat vir die première van haar aksieriller Salt in Tokio is, het gerugte afgemaak oor haar wankelrige verhouding met Brad Pitt.

"Hy is so 'n wonderlike pa," het sy gesê oor Pitt, wat tydens die duur van die verfilming gereeld hul kinders na die rolprentstel saamgebring het.
"Hulle het met die nagemaakte bloed gespeel en hulle het mamma baie vreemd gevind in haar ander haarstyl."

Pitt en Jolie is 'n paartjie sedert hulle saam aan die 2005-rolprent Mr & Mrs Smith gewerk het.
Hulle het ses kinders.

Verlede week het hulle onvermelde skadevergoeding ontvang in die Londense hooggeregshof nadat 'n Britse poniekoerant in Januarie berig het die twee beplan om te skei.

Uitgevra oor haar vermoë om te werk en 'n gelukkige familie te onderhou, was Jolie se antwoord aan verslaggewers by 'n hotel in Tokio: "Brad is die een wat dit moontlik maak."

Jolie het vier van haar kinders saamgebring na Japan. Hulle het reeds 'n tydjie afgeknyp om speelgoed wat geïnspireer is deur die Japanse regisseur Hajao Mijazaki se animasiekarakters Ponyo en Totoro te gaan koop, het sy gesê.

Jolie (35) het erken sy het haar agtjarige seun, Maddox, op 'n keer verras met haar uitrusting as 'n manlike vlootoffisier in Salt.
Hy het by die kamer ingekom en huiwerig bladgeskud met die persoon wat hy nie geweet het sy ma is nie. "Ek sê toe:‘Skat, dis Mamma.'
"Ek dink ek het hom die horries gegee," het sy gelag en bygevoeg hy het toe gekyk hoe sy haar vals ore, hande en neus aftrek.
Haar kinders gaan egter nie haar nuutste rolprent sien nie.
"Ek dink dit is baie moeilik vir hulle om te sien dat iemand hul ma wil doodmaak, selfs al wen sy," het sy bygevoeg. - Sapa-AP



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.