Daar is 'n geheimsinnige krag in die heelal wat toesien dat jong mense nie seerkry nie.
Niemand weet hoe dit werk nie. Die gemiddelde kleuter beland gemiddeld vyf keer per minuut in 'n lewensgevaarlike situasie, maar die meeste oorleef dit.
Klein Fritzie kan met 'n sopnat lyf oor die kombuis se teëlvloer hardloop met 'n broodmes in een hand en 'n pak Rattex in die ander en dan sy toon in 'n kragprop druk, en ongedeerd daarvan afkom.
Ouer mense sal nie eens die bogenoemde toneel sonder 'n hartaanval kan deurmaak nie. Die heelal kyk na sy kroos.
Om die een of ander rede het hierdie verskynsel met vrees te doen.
Vrees is soos 'n magneet vir moeilikheid. As jy diere vrees, val hulle jou makliker aan. In 'n gyselaarsituasie is dit gewoonlik vrees wat maak dat skote begin klap, en vele menseredders is al deur vreesbelaaide drenkelinge versuip.
Vrees lei tot vries, wat nie goed is vir oorlewing nie. Vrees is 'n kroniese siekte. As hy jou eers beet het, laat gaan hy nie maklik nie.
Hierdie beskermingsmeganisme is ook op jong volwassenes van toepassing.
Daar is 'n klein vensterperiode waarin jong mense basies met enigiets kan wegkom. Die meeste mense mors byvoorbeeld hierdie tydperk deur dwelms te gebruik of deur heeldag voor die televisie te lê. Dan kry 'n mens diegene wat hierdie geleentheid aangryp.
'n Boerseun van 14 het twee jaar gelede die werkers op hul plaas se kinders leer krieket speel. Die span het onlangs 'n paar groot toekennings gewen, die boerseun is Engeland toe genooi vir sy bydrae tot krieket, en almal van hulle se lewe is verander.
'n Tienjarige meisie van Trompsburg het onlangs gesorg dat honderde liters water by 'n laerskool in George afgelewer word. Sy het nie die logistiek in ag geneem nie, sy het bloot gevra hoekom George so droog is, en of sy nie vir hulle water kan stuur nie.
Hierdie is nie dinge wat sommer kan werk nie, maar die betrokkenes was so jonk dat hulle eenvoudig nie die onmoontlikheid van hul planne kon sien nie.
Hoe ouer en meer ingelig jy is, hoe meer geneig is jy om vas te staar teen potensiële probleme met jou drome. Dis asof die wêreld ons kondisioneer om te aanvaar dat ons drome nie waar kan word nie.
Ek onthou toe ons jare gelede ons eerste Avontoer gereël het. Ons was hopeloos te jonk, te dom en te idealisties om toe te laat dat die werklikheid van die situasie ons keer. Die toer was op papier 'n ramp, maar toe ons eers almal op daai bus het, toe skuif daai geheimsinnige krag weer agter die stuur in.
Dis dikwels makliker om later om verskoning te vra, as om nou te wag vir toestemming van volwassenes.
Soms moet 'n mens blind wees vir die gate in jou eie blink planne.