Die konsep is nie nuut nie. Plaaslike rolprente het al diep gedelf in plaaslike musiek vir 'n klankbaan.
Die televisiereeks Orion het 'n polsende kompilasie-klankbaan gehad wat grootliks bygedra het tot die stemming van die spanningsreeks.
Volgens kollega Laetitia Pople wat reeds die rolprent Bakgat! 2 gesien het, vloei die gebeure in die rolprent en die klankbaan naatloos saam.
Vir die uwe, wat nog net na die album kon luister, kan Eerste Jaar Treffer Mix as album op sig self sy man staan.
Kompilasies is soms die beste manier om verskillende orkeste te leer ken. In hierdie opsig is dit seker voordelig vir orkeste om deel hiervan te wees.
Dis egter belangrik dat die gekose snitte elkeen iets van waarde bied, anders kan dit net hier wees waar die lui luisteraar se belangstelling gaan taan.
Eerste Jaar Treffer Mix bied die geleentheid om te luister na Die Heuwels Fantasties, Straatligkinders, Van Coke Kartel, Gazelle, Glaskas, Jax Panix, Marsmoeras en Sean met die Bril, Ef-El, Die Ryno Velvet Band, Simon Schofield, Die Seks, Suzzi and the Swanz en Cherie van der Merwe.
Volgens Hunter Kennedy van Die Heuwels Fantasties het die vervaardiger van die rolprent, The Film Factory, vir Supra Familias genader om musiek beskikbaar te stel om in die rolprent te gebruik.
Hy meen dat dit goed is dat plaaslike musiek- en rolprentmakers hande vat. Hy weet kompilasies maak in die algemeen nie baie geld nie, maar hy het volle vertroue in die produk. Hy meen die eindproduk is cool.
'n Mens kan nie anders as om met hom saam te stem nie.
Die meeste liedjies op die album is al bekend en gewild. Die Sama-wenners Heuwels Fantasties het 'n splinternuwe lied ingesluit.
"Doodgewone Aand" is een van die nuwe liedjies wat op hul volgende album, wat waarskynlik teen Maart volgende jaar uitgereik sal word, gehoor sal word.
Daar word ook reeds 'n video van die lied gemaak. Dit gaan ook eersdaags as 'n enkelspeler beskikbaar wees.
Uit 'n bemarkingsoogpunt is daar min wat by hierdie soort bekendstelling ses maande voor die tyd kan kers vashou.
Video's van nog twee liedjies, "You" van Simon Schofield (gewilde Britse sanger, tog half vreemd tussen die res) en Glaskas se "Bring maar nog" word ook eersdaags uitgereik.
'n Verrassing op die album is Katrien (Cherié van der Merwe) wat haar lyf self sanger hou met Laurika Rauch se treffer "Stille Waters". Dit lê delikaat tussen die hoofsaaklik rockliedjies en tref jou half onverwags.
Studente-radiostasies moet hulle maar regmaak dat hulle oorval gaan word met versoeke om na hierdie album te luister.
Die album is reeds op die rak en die rolprent word op 10 September uitgereik. Dit gaan in 42 teaters landwyd begin draai.
Dis 'n bonus as die rolprent 'n beter produk is weens die klankbaan. Die grootste bonus van alles is egter dat daar tans in ons land soveel talent is om 'n album van hierdie aard te kan saamstel.
Die album is ook nie die somtotaal van wat gehoor kan word nie. Volgens Kennedy is daar nog 'n hele paar liedjies van Die Heuwels Fantasties wat in die rolprent gehoor kan word.