www.jip.co.za

As kat weg is, is die muis mos baas

Toe 2009 begin het, was daar 'n hele jaar vol onbekende goed wat nog sou gebeur.
En ek het geweet dat die jare elke jaar vinniger en vinniger verby gaan. Dus het ek net een voorneme gehad: om al die gebeurtenisse wat ek wil koester, neer te pen. Ek wil tog eendag vir my kleinkinders vertel hoe opwindend en snaaks hul ouma se lewe was . . .



As ek nou kyk na die vier bladsye in 'n boek vol papiertjies en gekrabbel is ek meer as tevrede met my jaar.
Dis nog nie verby nie en ek sal nog geskiedenis maak in die dae wat kom.
Skool is gewoonlik maar boring, maar in my vriendekring en in die klasse wat ek het, is daar nie 'n gebrek aan humor nie.
As die kat weg is, is die muis mos baas.



Ons het nooit op ons laat wag nie, want sodra die onderwyser die klas verlaat het, het ons die een ou wat altyd gedans en gesing het (hy het geglo hy het 'n versteekte talent . . . diep, diep, baie diep binne) op die tafels laat staan en dan het hy vir ons 'n show gegee waaroor ons 'n paar dae lank kon lag.



Gelukkig was sy vals note nie regtig hoorbaar as jy so erg lag dat jy jou maag moet vashou, en die trane by jou wange afloop nie. In ons skool is die "passion gap" nog altyd mode.
Dit was egter nie so "cool" toe 'n leerling een pouse oor die grasperk hardloop, val en toe vinnig-vinnig na sy kunsgebit soek nie.



By die hokkie-oefeninge was daar altyd een of twee rebelse kinders wat die drafpad van 3 km so 'n bietjie duister geraak het en sommer onder 'n boom gaan wegkruip totdat hulle die ander weer kry en dan ewe gemaklik saam met hulle inval. Hierdie gewoonte het nie so lekker gewerk by een van ons afsluitings nie.



Dit was soos 'n amazing race, maar kom ons noem dit eerder impossible race. Ons moes met 'n "ping-pong"-balletjie dribbel, een klip in 'n hele groot rivier soek waarop daar twee hokkiestokkies geverf was, 'n hele ent hardloop en glo my, dit is nie 'n lekker gevoel as jou opponente 'n onetiese lift kry en verby jou ry terwyl hulle vir jou rock on of peace wys nie.
Hierdie is 'n handjievol van die memories wat ek nooit sal vergeet nie.



As jy eers die "onthou jy toe . . ."- onderwerp pouses na vore bring, sal jy verbaas wees oor al die goed wat mense kan onthou. Ons tieners het 'n vreemde manier om die goed wat regtig saak maak, nooit te vergeet nie.



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.