Verskeie organisasies span weer vanjaar kragte saam vir die verryking van laerskoolleerders in verskeie gemeenskappe.
Die Absa KKNK op Toer sal vanjaar, tussen 6 en 23 September, 40 skole met 'n teaterervaring bekoor. Van hierdie skole sal 30 deur die Afrikaanse produksie Karoo Journeys (foto aangeheg) en tien skole deur die Xhosa produksie Inja ka Vuyo, vermaak word.
Die Absa KKNK het sedert die eerste kunstefees op Oudtshoorn in 1995 dit ten doel gestel om die kunste ook onder die breër gemeenskap van die streek te bevorder. In 2009 is die Absa KKNK op Toer aangepas om veral te fokus op plaasskole in die streek.
"Die bestuur en die direksie van die Absa KKNK beskou Absa KKNK op Toer as 'n wonderlike voertuig om ons nasionale mandaat ter bevordering van die kunste ook in ons plaaslike gemeenskappe, waarvan baie lede aan die landbou-ekonomie deelneem, uit te leef. Ons opregte dank aan almal wat dit moontlik maak om deur middel van dié besondere projek ook die sade van die kunste in die Klein Karoo te saai", sê Brett Pyper, Uitvoerende Hoof van die Absa KKNK.
Agri Klein Karoo (AKK) se agri verenigings voeg vanjaar weer waarde tot die Absa KKNK op Toer, deur na afloop van die optredes etes aan leerders te voorsien. Volgens die hoofbestuurder van AKK, Piet Lodder, is die landbou se betrokkenheid by kuns en kultuur en spesifiek die Absa KKNK op Toer, onlosmaaklik deel van die geheel-ontwikkeling van mense in die landelike gemeenskap.
"Ons agri verenigings se strategiese vestiging van gemeenskapsentrums sluit, soos reeds by die Agri Volmoed se De Hoop Projek, volhoubare opleiding en werksgeleenthede in. Elkeen van die tien verenigings by Avontuur, Bo-Kammanassie, Calitzdorp, De Rust, Herold, Kangovalleie, Ladismith, Oudtshoorn, Uniondale en Volmoed, se streke is uniek. Tog is voedselproduksie en kos vir kinders, kuns, kultuur en sport, deel van mense-ontwikkeling op plase in al die streke."
Die Absa KKNK op Toer, voorheen bekend as die Voorbrandfees, Klein Karoo Kontreikuns, die ATKV Kontrei-verhoog, klap! en die Klein Karoo Feesparade word deur AKK en die Klein Karoo Agri Besigheidsentrum, as bestaande projekte van die Absa KKNK benut, om lewensgehalte tot landelike bewoners rondom Oudtshoorn toe te voeg.
Die Absa KKNK op Toer word ook bygestaan deur Die Vryburgers en kykNET. Die Vryburgers skenk skryfbehoeftes ter waarde van R12 000 aan 21 plaasskole in die omgewing. kykNET stel 'n pakket saam vir die hoërskole in die streek, wat die DVD Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom insluit. Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom is 'n Afrikaanse tiener fliek, gebaseer op Marita van der Vyfer se gelyknamige boek, wat ook 'n voorgeskrewe werk vir leerders is en het op 13 Augustus 2010 in teaters begin draai.
Die twee produksies wat op Toer geneem sal word, is:
• Afrikaanse Produksie: Karoo Journeys
Die Kambro Diggers is 'n toneelgeselskap uit die hartjie van die Klein Karoo en dit is hulle passie om die stories van die Klein Karoo in kabaretvorm deur drama, sang en danse met mense te deel. Groot en klein, oud en jonk, nasionale teatergangers en internasionale toeriste geniet almal die reise waarop die Kambro Diggers hulle neem. As Muis, Blou Volstruis, Aga-Ku en Reënboogvolstruis se saam-vertel in een pot geroer word, met stories oor hoe die Melkweg ontstaan het en ander dans-stories uit die Klein Karoo, kan die gehoor hulself gereedmaak vir 'n uur van lekkerkry.
• Xhosa Produksie: Inja ka Vuyo
Vanjaar bied die Isibane Drama Groep en Unima SA 'n poppekas produksie aan, wat vertel word deur twee verskillende style van poppekas. Die storie speel af teen 'n lewendige, kleurvolle agtergrond van die township lewe. Die held van die storie is die twaalfjarige Vuyo, 'n klein seuntjie met 'n groot droom. Hy is die beste doelskopper van die plaaslike sokkerspan en hy wil, wanneer hy groot is, dalk eendag vir Bafana-Bafana op die sokkerveld uitdraf. Vuyo se pa is baie siek. Met werk in en om die huis, skoolwerk en die ekstra verantwoordelikheid om na sy pa om te sien, het Vuyo geen tyd om sokkeroefeninge by te woon nie. Wanneer die ander kinders uitvind dat Vuyo se pa HIV positief is, word hy deur die ander kinders geboelie en gespot. Deur middel van pret en humor, tree die gemeenskap tussenbeide en help Vuyo se familie.
Die Absa KKNK op Toer besoek onder meer skole in Schoemanshoek, Oudtshoorn, Calitzdorp, De Rust, Zoar, Amalienstein, Ladismith, Van Wyksdorp, Algrynskraal, Rooirivier, Avontuur, De Hoop, Britsevlakte, Kommandantsdrift, Noll en Herold.