Aanstaande jaar se Absa Klein Karoo Nasionale Kunstefees vind van 2 tot 9 April plaas en sluit nie die Paasnaweek in nie.
"Die fees vind twee weke voor die Paasnaweek plaas, wat aanstaande jaar eers aan die einde van April is," het mnr. Brett Pyper, uitvoerende hoof van die KKNK, gister gesê. Paasnaweek is aanstaande jaar van 22 tot 25 April.
"Die fees sal op 'n Saterdag begin en die volgende Saterdag eindig sodat daar weer twee naweke ingesluit is. Dit val ook binne die skoolvakansie vir al die provinsies."
Pyper het gesê die KKNK-direksie, wat verlede Sondag vergader het, is baie tevrede met die pas afgelope fees wat van 1 tot 8 April plaasgevind het.
"Daar was vanjaar heelwat risiko's met die nuwe dinge wat ons ingevoer het. Ons het nie geweet hoe feesgangers die nuwe feesterrein en toegangsgeld sal ervaar nie, maar die syfers wys dat die fees 'n sukses was.
"Ons is tevrede met die voorlopige omsetsyfer, veral as 'n mens die groter uitgawes vir die groter terrein en meer geriewe in gedagte hou. Die syfers moet egter nog geoudit word voordat dit bekend gemaak kan word."
Hy het gesê skakeling met die inwoners van Oudtshoorn duur voort om die fees vir almal toeganklik te maak en groter deelname te verseker.
"'n Terugvoer-vergadering sal binne die volgende ses weke gehou word en dan sal al die belanghebbendes 'n geleentheid kry om kommentaar te lewer op vanjaar se fees. Almal se bydraes is belangrik en word in ag geneem vir volgende jaar se fees." - Die Burger