’n Paspoort vir droomland

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie

Ek was in gr. 7 toe The Matrix uitgereik is. Ek het een van die heel eerste vertonings in Bellville gaan kyk en ek onthou hoe dit my brein heeltemal uitgeknikker het.

Ek was gewoond aan Austin Powers en Ace Ventura. Morphius met sy vuis vol blou en rooi pille het my boksie so erg oopgeskop dat ek nooit weer dieselfde oor die werklikheid gedink het nie. Dit het my uitgedaag en gesorg dat ek my eie realiteit betwyfel.

Sedertdien het ek al baie flieks gekyk, maar ek het nog nooit weer in 'n teater gesit en wonder of die springmielies op my skoot regtig bestaan nie. Ek moes twaalf jaar wag om weer daai gevoel te kry. Die fliek se titel is Inception en dit het my aan my ore gegryp en my alles laat heroorweeg. Ek sal nie die storielyn verklap nie, maar dit gaan oor drome en is die moeite werd om te kyk.

Drome interesseer my al sedert my kinderdae. Elke mens dink altyd hul drome is die malste, en myne het my soms oortuig dat ek heeltemal gek is. Ek het altyd gedink ek droom meer as ander mense, maar het later besef almal droom eintlik baie en onthou dit net nie so goed nie. En hier raak dit interessant, want dis iets wat almal op aarde doen, selfs die meeste ander diere, tog weet ons so min daarvan. Ons bring amper 'n derde van ons lewe in droomland deur, tog het ons nog nie een behoorlike kaart of reisbrosjure vir dié plek nie.

Ons weet nie eens altyd waar die grense lê en of ons paspoorte daar geldig is nie. Al wat ons weet, is dat dit 'n plek is wat deur onsself, of iets binne-in ons, geskep word en dat normale wette en reëls nie daar geld nie.

Die mens se brein is soos 'n hardeskyf wat via jou sintuie elke oomblik vasvang en stoor. Ons probleem is dat ons geheue soos sagteware is wat met 'n virus besmet is. Dit veroorsaak dat ons nie alles kan onthou nie. Dis 'n soort filter, want in baie gevalle is dit beter om nie alles te onthou nie, anders sal elke oomblik van elke dag net te oorweldigend wees.

Wanneer ons egter slaap, laat ons brein uiteindelik hierdie gedagtes en herinneringe van hul leiband af, en kan hulle soos opgewonde babahondjies deur die oneindigheid van ons onderbewussyn hardloop. En dit is waar die pret begin. Daar is mense wat hulself bewus kan maak dat hulle droom en met oefening kan hulle die drome begin beheer. 'n Mens noem dit lucid dreaming, en dit klink soos 'n baie lekker manier om 'n vervelige aand mee op te kikker.

Wat dit so interessant maak, is dat ons onderbewussyn heeltyd by ons is, en dat ons gewone bewussyn deur die dag bloot soos 'n masker daar bo-oor pas. Dis asof ons drome aan ons leidrade gee van hoe magtig ons breine regtig is, en dis ewe waar vir nagmerries.

Selfs al begin ek vandag gesonder lewe, gaan ek heel moontlik nie eens 80 maak nie. So ek is nie bereid om nog 'n derde van die res van my tyd op aarde nie te geniet nie.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar