’n Hele heelal vol lewe

  • 3
    like dit
  • 1
    like dit nie

Julle gaan nou dink ek is weird, maar ek dink nie lewe kom eksklusief van ons eie aarde af nie, of nie soos wat ons noodwendig dink nie.

Ek gaan dit probeer verduidelik, en dit gaan moontlik voel soos 'n biologie-les, maar dit is wat op my hart is.

Okay, elke sel en weefsel in die liggaam bevat proteïene en dit maak omtrent 75% van die droë gewig van die menslike liggaam op. In proteïene vind ons 20 aminosure. Aminosure is soos die Lego-blokkies waarvan alle ­lewe gebou is.

Hoekom daar 20 is, weet ek nie, maar dis nou maar so. Wetenskaplikes het gevind daar is van daardie 20 aminosure tien wat tydens die vorming van die aarde al hier was, in 'n prebiotiese tydperk 4 miljard jaar gelede.
Daardie tien basiese aminosure het gekombineer om 'n prebio­tiese slym te vorm wat die voorganger was vir die mees basiese enkelsel-organismes, prokaryotes.

Iewers langs die pad tussen daardie basiese enkelsel-organisme en voor die eerste voorganger van die metaboliese proses en lewe soos ons dit vandag ken, is die ander tien aminosure deur die een of ander sekondêre proses gevorm.
Ek is nie presies seker hoe dit gewerk het nie, maar die punt is dat daardie eerste tien aminosure 4 miljard jaar gelede hier op die aarde was, maar dit is nie noodwendig hier gevorm nie.

Daardie spesifieke tien aminosure is ook gevind in komete en meteoriete, in dieselfde vergelykende hoeveelhede as op die aarde, wat van ander woonbuurte in ons heelal afkomstig is en bewys dat hierdie aminosure gevorm is in die beginstadium van die hele sterrestelsel.

Daar is 'n groot moontlikheid dat daardie tien Lego-blokkies aan ons tuiste voorgestel is in 'n helse bombardering op die aarde rondom daardie tyd, 4 miljard jaar terug. Bewyse van hierdie bombardering kan gesien word op die maan se oppervlak.

Dit beteken ook nou natuurlik dat daardie tien aminosure op miljoene ander planete wat soos die aarde is, kan wees en dat lewe op ander planete moontlik nie te ver verwyderd van ons eie konsep van lewe is nie.

Sjoe, dit was nou 'n mondvol. Eintlik hoef 'n mens nie baie ver te soek vir bewyse dat lewe van ander planete afkomstig is nie.
Die ANC-jeugliga wil Twitter afsit. 'n Vrou van Amerika (waar anders?) het haar baba doodgeskud toe die kind te veel gehuil het terwyl sy Farmville op Facebook gespeel het.

En as jy kyk hoe ons ons huidige woning hanteer, lyk dit asof ons vat wat ons kan kry, evolve tot op 'n punt en dan weer waai op mensgemaakte komete in die vorm van nanobots.

Wham-bam, dankie, Moeder Natuur! Sien jou later.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar