’n Heiligdom wat net joune is

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie

"Jou kamer lyk soos 'n varkhok! Kom maak dit nóú skoon!"


Dié woorde irriteer my grensloos. Pa en Ma, daar is 'n rede daarvoor dat dit mý kamer is.


Dit beteken ek kan dit so vuil maak as wat ek wil.


Hiermee bedoel ek nie my kamer sal in 'n gesondheidsgevaar ontwikkel nie, maar dit kan sekerlik so 'n bietjie deurmekaar wees? En as ek dit die dag wil skoon hê X fantasties!


My kamer is my stukkie wêreld waar ék koning kraai. Dit is hoekom ek my geesdriftige ma van gr. 4 af gekeer het om dit met vliegtuigies te versier.


Soos jy weet, spreek iemand se kamer boekdele oor die persoon. Iemand wat sportmal is, sal dalk posters in sy kamer hê van Morné Steyn en Graeme Smith. Mense wat hou van reis, sal dalk muurpapier van die Eiffel-toring hê.


Daar is ook mense wat minimalisties aan hul kamer versier, maar selfs dan sal jy hul persoonlikheid maklik kan identifiseer.


Die CD's langs iemand se bedkassie en die hi-fi dui moontlik daarop dat hy 'n musiek-junkie is.


Daar is ook dié hartseer gevalle: die tieners met daai pienk-Barbie- of blou-karretjie-kamers, waarvan hul ouers nie wil afstand doen nie, omdat hulle nie wil vrede maak daarmee dat jy nou al 'n tiener is nie.


Die temas wat jou ouers aanbeveel is nie noodwendig kinderagtig nie. Maar net omdat jou ouers mal is oor heavy metal, moet hulle dit nie die tema van jóú kamer maak nie. Die ouer-kind-verhouding is nie meer 'n diktatorskap nie, dit is 'n demokrasie  –  jy kan jou stem dik maak. Ek het doelbewus besluit om alle invloede van my ouers uit my kamer te verwyder en my eie stempel af te druk.


My kamer is 'n bloudruk van wie ek is, daarom wil ek deur dinge omring word waarvan ek hou. Dit moet vir my 'n ontsnappingsplek wees ná 'n warrelwind-dag by die skool, maar dit moet ook 'n plek wees waar ek en my vriende kan ontspan en kuier.


Die feit dat my kamer 'n badkamer het, is die grootste voordeel, maar dit is ook sy grootste nadeel. Dit beteken my kamer is ook by implikasie die gastekamer en dat ek gevolglik op 'n matras in my broer se kamer gaan squat wanneer iemand kom kuier.


Dan verloor ek myself. Ek is soos 'n spook wat rigtingloos rondwaal. My kamer raak soos die land van melk en heuning, wat ek nie kan betree nie. En die beste van alles is dat dit is eintlik mýne is. Is ek obsessief en possesive? Nee, elke tiener voel sterk oor sy stukkie aarde.


So Pa, gooi asseblief net 'n slag 'n blinde oog as my hemp op die grond lê.



  • Christiaan du Plessis is een van JIP se JJ's en is 'n leerder aan die ­Hoërskool Swartland in Malmesbury.


 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar