'n Dag by die Universiteit

  • 14
    like dit
  • 2
    like dit nie
Blogger:

Willim Welsyn

Ek stap 'n beknopte Humarga binne en gebruik my sambreel as 'n koddige kierie. Dis bedompig van al die studente-asems. Ek hoor ongeveer dertien mense wat hoes, sewe mense wat nies, twee sms`e en een girl se foon wat vibreer . 'n Koor van knoppies en muisklikke klik-klak soos Khoi Khoi-tonge. Daar staan drie poppies en giggel by die raserige printers en een butch girl kyk hulle geïrriteerd aan terwyl sy vir haar papiere wag. Ek loop deur al die rye, op soek na 'n oop rekenaar om by in te log.

Ek loer altyd wat op almal se skerms aangaan. Een ou wag vir Youtube om te load, 'n ander een kyk Facebook-foto's, een meisie werk hard aan 'n taak en 'n ander lag vir 'n e-pos grap. Die enigste oop sitplek is langs 'n spierwitgepoeierde goth-meisie met swart-en-pienk hare, drie piercings in haar onderlip en een in die bolip, met 'n lang kuif wat in haar swartgrimeerde oë hang.

Sy het 'n Cradle of Filth-t-shirt aan met kortmouhandskoene wat vinnig die keyboard vinger. Sy sit langs 'n swart middeljarige Afrika-non. Die goth staan op om haar warm papiere by die printer te gaan haal. Sy vra die non vir 'n stapler. Ek lag in my mou. Niemand anders sien die kontras raak nie.

Ek check my mails en lees al my grappe vir die dag. Niks skud op Facebook nie. Daar's net 'n paar flou status updates. Daarna werk ek verder aan my opstel, sonder om die spelfoute reg te maak. Die ou regs van my se iPod-oorfone raas in sy ore. Ek sukkel om uit maak wat hy luister, dit klink amper soos Snotknop.

Ek print my opstel en vra die non vir haar stapler. Met die drie musketiers, Alt, Ctrl, Delete, log ek uit. Soos ek uitstap sien ek vir Louis, die hoofseun van Humarga en sangerster van S.A`s got talent, wat vars papier vir die printers voer. 'n Klomp studente drom rondom hom soos zombies wat honger is vir hulle papiere.

Ek hardloop vir die tydlike oop deur na die trappe toe, want ek het alweer my studentekaart vergeet. Soos 'n gentleman hou ek die deur vir 'n haastige, maar vriendelike, meisie oop. Die hysbak lyk soos 'n hophuis vol dig gepakte varkworsies met klere aan. Ek kies die trappe.

In die gang loer ek in al die oop kantore en groepklasse in. Die dosent koop my flou verskoning uit ordentlikheid en aanvaar my opstel wat alweer laat is. Ek tel die trappe op pad af. Twee-en-sestig tot op die tweede vloer.

Dis koud buite. Voor die BJ-gebou staan studente en rook in die wind. Dit begin hard te reën. Oor die pad kom drie sopnat girls met somersrokkies aangehardloop vir skuiling teen die storm. Hulle bibber en deel Stuyvesants met mekaar. Hoekom is daar so baie girls op kampus wat nooit die weer raadpleeg voor hulle klas toe kom nie?

Ek vroetel op my selfoon. Ek is nie lus vir klas as dit reën nie. Ek slat my sambreel oop soos 'n valskerm en worstel teen die reën oppad Neelsie toe. By Bumpers koop ek stomerige slaptjips. Die boksie brand my hande. Na 'n interne debat tussen my gewete en my klasrooster besluit ek om my tjips te vat en huistoe te gaan. Ek het lanklaas Werner se Borat-DVD gekyk. Ek sal môre weer soet wees en klas toe gaan.

Gebruikers Kommentaar (3)

  • Tobie
    6 months ago
    Goed gesê! "Vinger die keyboard", lol!

  • 6 months ago
    Ja, Eldre. Ek het ook nou-net 'n terugflits van swot gehad. 'n Dag in die lewe van 'n student is hier goed vasgevang!
  • eldré
    6 months ago
    ek ken daai dae op kampus van niks doen en half swot! het dit vir 4 jaar lank gedoen.
Bladsy 1 van 1
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar