‘Wil jy inskroef of wil jy indraai?’

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Talle ouers is ontsteld oor die vrae wat glo seksuele ondertone gehad het.

'n Storm woed onder ouers van die Hoërskool Vereeniging, waar "growwe, onwelvoeglike seksvrae" aan deelnemers aan die Mnr. en Mej. Rainbow-wedstryd gevra is.


Gr. 12-leerlinge het die onderhoude verlede week met gr. 11-leerlinge gevoer.


Tydens die vraesessie, waar 'n onderwyser glo teenwoordig was, is verskeie vrae aan deelnemers gevra wat ouers gebelg laat voel.


'n Ouer wat anoniem wil bly, het gesê: "Dit is moeilik om te dink die samelewing het al so verrot geraak dat niemand bereid is om op te tree nie."


Die vrae het glo hoofsaaklik seksuele ondertone gehad en die meisies is glo onder meer gevra watter seksuele posisies hulle verkies en in wie se kamers hulle sou wou hang as hulle spieëls was.


Hulle is ook gevra of hulle sou verkies het om "ingedraai of ingesteek" te word as hulle gloeilampe was.


Nog 'n ouer het gesê dit is "verskriklik en ondenkbaar" dat 'n onderwyser glo toegelaat het dat leerlinge sulke vrae bly stel.


Ouers meen die leerlinge en die onderwyser wat dié suggestiewe vrae toegelaat het, moet op die een of ander manier aan die pen ry.


"Die skool moet kinders opvoed. Dié soort ding is onaanvaarbaar en daar moet gevra word in watter stadium 'n mens ingryp.


Sulke gedrag is glad nie in belang van die skool of die kinders nie," het die ouer gesê.


Mnr. Faan Beeslaar, skoolhoof, het gesê 'n verslag is aan die departement gestuur.


Nóg hy nóg die beheerliggaam wou oor die bewerings uitwei.


Die Gautengse onderwysdepartement het bevestig onbehoorlike vrae is aan leerlinge gestel.


Ouers en leerlinge is om verskoning gevra en die departement en skool distansieer hulle van dié soort gedrag.


Die departement het voorts berading vir leerlinge aanbeveel en die saak is tydens die saalbyeenkoms gehanteer.


Volgens die departement het die paneel van onderhoudvoerders net uit skoliere bestaan en die onderwyser wat die wedstryd reël, het die vrae nie goedgekeur nie.


Die uitslag van die wedstryd is ongeldig verklaar en alle leerlinge wat benoem is, sal toegelaat word om aan die eindwedstryd deel te neem.


Volgens die departement het die betrokke onderwyser 'n ernstige oordeelsfout begaan en 'n tugverhoor sal vroeg in Augustus gehou word.


Sien ook:
JIP loer onder die lakens

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar