''Mors Jors waar is jou maniere?".
Okey, afgesien van die feit dat hierdie liedjie baie kleuterskool-herinneringe opwek, asook die feit dat ek nog nooit van enigiemand met die naam Jors gehoor het nie, moet ek bieg: Waar is SY maniere? Waar is almal se maniere?
Ons lewe nie meer in 1834 nie. Ons hande het silwerware vervang en borde het waspapier geword. Ons taal het ontwikkel tot op so 'n punt dat dit nie die hele tyd klink asof ons dronk is as ons praat nie. Tannies met leë oë en perfekte postuur staar nie meer demonies na kameras nie en ons baarde hang nie meer tot op ons skote nie (afgesien van ZZ Top).
Maar eerlikwaar, waar trek jy die lyn? Die helfte van ons land loot en pillage in elk geval, maar wat van die res, om 'n bekende S.A. band te quote: "Wat het van ons geword?"
Ons leef in die Wild Wild West hier in S.A. en ek moet bieg, dis baie exciting, jy weet nie wat gaan volgende gebeur nie, miskien steek jou skoolmaat vandag iemand met 'n swaard, of as jy gelukkig is, word jy dalk net gemug... En hoekom? Ek weet nie, maar as ek moet raai sou ek se dis weens 'n groot tekort aan basiese maniere.
Maar wag, voordat ek soos my ouma begin klink, ek praat regtig van basiese maniere hier, soos om tande te borsel en jouself af te vee... Ek gee werklik nie om as jy daarvan hou om met jou broek tot onder jou boude te loop nie, of as jy graag jou onderwyser/dosent Mufasa wil noem nie.
Hoewel ek nie omgee nie, is daar wel ‘n helse klomp mense wat eintlik doen. Oupa Landman sit waarskynlik nou op sy stoep en kla oor hoe ons jeug besig is om die ergste dinge aan te vang sedert die sondeval. Maar was oupa Landman en sy karnallies werklikwaar soveel beter as ons? Ek twyfel. Wie sê Dronkie en die Bokserbende het nie tussenin scenes ‘n vinnige smoke-break gevat nie? Of dat Oupa Landman én sy Viool nie saam die Filmreggiseur die kat in die donker geknyp het nie? Of dat Bles Bridges.... Die lys gaan werklik net aan.
So wat is die verskil tussen ons generasie en die ou-ballies? Wel, miskien dalk net dat ons era van MTV, MacDonalds en motors ons die luiste mense sedert die Romeine gemaak het. So, die enigste verskil dan, is dat onse vaadre net die common sense en werksetiek gehad het om hulle slegte maniere onder die bank weg te steek, en hulle het dit tydelik vervang met die persoonlikhede van engele.
So, ek pleit, nie vir minder sigarette en vloekwoorde nie. Maar wel dat almal van ons, ten spyte van ons luiheid, bloot die common sense en skynheiligheid uit die verlede sal terugbring. Vrede.