Wie het Pedrie 'n held gemaak?

  • 66
    like dit
  • 9
    like dit nie
Blogger:

Marco Botha

Toe ek verlede jaar gevra is om hier oor Joost se onderbroekpetalje te skryf, was dit soos om 'n rekenmeester te vra om die boeke voor hom te laat klop - dit was my werk.

Maar lees gou hier: "Ek wil niemand teleurstel nie. En die meeste druk kom van kinders wat na my opkyk. Ek moet 'n voorbeeld stel. Volwassenes druk jou om beter te speel en die kinders dink jy's 'n held. Dis dié kinders wat jou heel eerste op straat herken. Jou handtekening vra. Dit het my laat skaam kry oor wat ek aangevang het - ek wou nie meer die held wees nie. Wat as die kleintjies moet uitvind wie ek regtig is?"
Dit is wat die Blou Bul- en Springbok-losvoorspeler Pedrie Wannenburg in die jongste uitgawe van die tydskrif Finesse te sê het.


In hierdie artikel bieg hy oor hoe hy hom aan drank en dwelms "vergryp" het - iets wat reeds twee jaar gelede deur sy ma en nog 'n "Blou Bul-video" oopgekrap is, maar met voorwaardes deur sy werkgewer stil gehou is.


Op versoek van my billike base moet ek voorts hieroor kommentaar lewer, maar hier is hoekom ek dit nie soos Joost s'n gaan hanteer nie en waarom ek in hierdie blog my plig as 'n objektiewe waarnemer gaan pypkan.
Pedrie Wannenburg was in 1999 aan die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal in matriek. Die jaar van te vore het hy onder Johann Muller, kaptein van die Sharks, in dié skool se eerste rugbyspan gespeel.

Daardie twee jaar was van dié skool se beste rugbyjare en 'n hengse klomp van daardie latte het later provinsiaal en internasionale rugby gespeel. Maar Pedrie was 'n speler in 'n ander klas.

Toe hy in 1999 vir die SWD-Jong Arende in die Craven Week op George gespeel het, is hy na dese as die voorspeler van die toernooi aangewys. Hy is vir die Suid-Afrikaanse skole- en o.19-span gekies, - laasgenoemde het hy in 'n paar wedstryde aangevoer.


Op 21-jarige ouderdom is hy vir die Springbokke gekies en is toe as 'n toekomstige Bok-legende geoormerk.
Nietemin, in 1999 het ek as 13-jarige kannetjie op die hoofpaviljoen van Outeniquapark gesit, na Pedrie gewys en vir my pa gesê ek wil in daardie ou se skool wees - waar ook al dit mag wees.
"Maar dan moet jy Maandag in my kantoor 'n draai kom maak," het sy skoolhoof, wat toevallig agter my gesit het, gesê.

'n Afspraak is gemaak en ek is (toe 'n rapsie onder 1,5 m in my betreklik klein skoeisels) aan die reuse-Pedrie voorgestel.
Dit gaan klink of ek my eie trompetjie shine as ek sê wat Pedrie se ekstra ure en sweet op "die plaas" se rugbyvelde vir my in die daaropvolgende 11 jaar beteken het.


Ek is wel uiteindelik na sy skool toe. En wat ek daarna met my lewe gedoen het, is direk te danke aan hoe ek Pedrie toe as my nuwe rugbyheld opgehemel het - só belangrik is ons heroes!
Selfs noudat ek 'n rugbyskrywer is, kan ek nie anders as om as 'n kannie-dood-Streeptrui met bykomende belangstelling na hierdie Blou Bul se wedstryde te kyk nie.
Ek wou al op universiteit een van daardie cliché-briewe aan hom stuur. Een van daardie outjies waarin 'n man begin met "jy kan my seker nie onthou nie, maar baie dankie . . .".


Intussen het sy loopbaan hoogte- en laagtepunte gehad, en nou, twee jaar nadat hy "uitgevang" is en danksy blote genade nog rugbystewels mag aantrek, word ek genoop om anders as 'n kind na Pedrie te kyk. Maar dit sukkel.
Want ek ken sy agtergrond, sy mense en sy menslikheid. En daarom, net soos ons almal, aanvaar ek hy gaan foute maak, mense seermaak, weer foute maak, maar hopelik leer.
Wie het in die eerste plek van hom 'n held gemaak wat nie mag foute maak nie.


Ek.


Wie is ek om hom nou te veroordeel?


Niemand.

Besoek gerus Finesse se webwerf by http://www.finessemag.co.za voordat jy op hierdie blog kommentaar lewer. Gees!


 

Gebruikers Kommentaar (54)


  • 3 months ago
    Dis nou iemand wat 'n "voorbeeld" moet wees vir jong seuns, nou dink die klomp jonges dis reg om dwelms te gebruik want Pedrie het daarmee weggekom!! Wat 'n VOORBEELD!! Weet nie hoekom is hy ook geskors nie - toe Johan Ackermann bietjie verbode middels gebruik het mag hy nie deelgeneem het vir jare nie maar Pedrie mag maar speel - wonder net??
  • Mari
    5 months ago
    Ek kan onthou hoe omgekrap my broer was toe ons een aand uit is na 'n club in Hatfield toe Pedrie hom in 'n hoekie gevra het om vir hom bietjie "cat" te score !!! (shocking) Mooi so Pedrie, Dis nie almal in die VIP lounge wat jou habits het nie.

  • 5 months ago
    BLOU BULLE

  • 6 months ago
    Ek hoor dat in Pretoria het rugby afrigters nou hul pos beskrywing na "dealers" verander

  • 6 months ago
    Pedrie was nog nooit 'n held nie, die koerante blaas alles net op vir sensasie, almal is normale mense.
Bladsy 1 van 11
<< Vorige | Volgende >>
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar