Wes-Kaap het ’n volmaakte getal in SA span

  • 1
    like dit
  • 0
    like dit nie
Hol met die bal! Foto: Louis Botha

Toe die Suid-Afrikaanse skolerugbyspan Saterdag hier aangekondig is, het die Wes-Kaap wyd geglimlag en plek-plek seker getreur.
Sewe spelers - vyf Streeptruie en twee Bolanders - is in die span opgeneem. En soos in die bostaande artikel gemeld word, het Percy Williams en straks Blaine James van die SWD rede tot hoop gehad.

Albei is nou eers in gr. 11 en die tyd is dus nog aan hul kant.
Twee spelers wie se name seker al voor die Cravenweek in die keurders se notaboekies kon wees, is Craig Barry (heelagter) en ­Steven Kitshoff (loskopstut) van die WP.

Selfs toe sake in die hoofwedstryd teen die Vrystaat beroerd begin lyk het, het Kitshoff die Streeptrui-skrum geanker en Barry die Cheetahs se verdedigers deurgaans bly toets.

Twee aangename brieswindjies was Jean-Paul Lewis (vleuel) en Sikhumbuzo Notshe (7-flank).
Lewis lyk soos 'n jong Paul Treu (Blitsbok-breier) as hy hardloop, en Notshe is not-de-dinges 'n klein losvoorspeler nie.

Die vyfde WP-speler is Tshotsho Mbovane (senter). Hy en Barry het al Treu se oog getref en kan moontlik eersdaags in Springbok-sewes­pakkies gesien word.

Nietemin, daar is min manne wat so sterk kan systap, kan hardloop en kan lak soos dié buksie.
Die Bolandse kaptein en7-flank, Wiaan Liebenberg, het baie vroeg reeds die keurders beïndruk.
Sy leierskap op en van die veld het 'n paar van Suid-Afrika se voorste breiers met ontsag na hom laat kyk.

Leroy Bitterhout (linkervleuel) en sy suurlemoenskoentjies was hierdie week 'n sierlike gesig.

Hy's bang vir niks, ratser as 'n grassnyerlem en so moeilik om te vang soos 'n jong vlieg.

Die span is Craig Barry (WP), Jean-Paul Lewis (WP), William Small-Smith (VS, kapt), Andile Jho (Grens), Leroy Bitterhout (Boland), Johan Goosen (VS), Rudi van Rooyen (BB), Nardus van der Walt (BB), Sikhumbuzo Notshe (WP), Khaya Majola (KwaZulu-Natal), Ruan Botha (Valke), Ruan Venter (Lions), Allan Dell (Grens), Jason Thomas (OP) en Steven Kitshoff (WP). PLAASVERVANGERS: Anrich Bitzi (VS), Neethling Fouche (VS), Schalk van Heerden (BB), Wiaan Liebenberg (Boland), Kevin Luiters (VS), Paul Jordaan (VS) en Tshotsho Mbovane (WP). Afrigters: A.J. Mercuur (Boland) en Janse van der Ryst (Griekwas Platteland). Spanbestuurder: Adam Lottering.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar