Wenners wenners wenners. Wenners wil ons wees.

  • 14
    like dit
  • 2
    like dit nie
Blogger:

Willim Welsyn

My band, Willim Welsyn en die Sunrise Toffies, se grootste prestasie was seker toe ons album, "Kompos en Kraai", genomineer is vir 'n SAMA-toekenning aan die begin van hierdie jaar. Voor die SAMA-nominasie was ons nog nooit vir enige toekenning benoem nie. Nie vir 'n MK-toekenning nie en selfs nie vir 'n Huisgenoot Tempo-toekenning nie. Ons het nog nie eers ‘n battle of the bands van watter aard ook al gewen nie. En ons was fine daarmee.


Maar toe ons uitvind ons is vir 'n SAMA genomineer, het ons deur die dak geskiet. "Justice for Bakkies, Willim en die Toffies!" Uiteindelik kry ons 'n bietjie erkenning en nie sommer enige soort erkenning nie, maar 'n SAMA-nominasie nogal. In my geestesoog sien ek hoe ek die Kry-vir-jou!-vinger vir al my onderwysers wat nooit in my geglo het nie, gooi. Dieselfde vinger spring op vir al daai bands wat in die verlede te famous en cool was om met my te praat. Dit was magic. Ek het almal op my selfoon se foonboek gebel om te spog.


'n Week ná die goeie nuus het 'n nare ding gebeur. Die nominasie was nie meer goed genoeg nie. Ons het vir die volgende twee maande voor die groot aand begin glo ons het klaar gewen. Ons het ook met baie bravado en selfversekerdheid ons families en vriende laat glo dat ons definitief sal wen. The Law of attraction is immers 'n wet.


Jy sien, om met 'n Sama-nominasie in jou kunstenaarskop (wat hunker na erkenning en sukses) rond te loop is eintlik wreed. 'n Bittersoet straf, want daar bestaan nie iets soos koester geen verwagtinge, geniet net die trip" nie. Uit die aard van die saak bevind jy jou pens en pootjies in 'n kompetisie, en jy's bly iemand het jou daar geplaas, maar terselfdertyd begin die ambisie en hoop om te wen aan jou vreet. 'n Kunstenaar se behoud is tog om in hom-/haarself te glo.


Die groot aand breek aan. Sun City is 'n malhuis en ons is gedress vir sukses. My maag voel soos 'n mixer vol sementskoenlappers. Al die ander bands in ons kategorie lyk net so selfversekerd soos ons. Ons wag in spanning. Die aanbieder lees die nominasies, my maag begin werk, my hande stoom soos hulle sweet, "En die toekenning gaan aan ... Van Coke Kartel! Waaksaam en Wakker!"


My meisie druk my hand styf en gee my 'n soen van simpatie. Die ander bands lyk of hulle van 'n begrafnis afkom. Francois van Coke sing kliphard oor die mikrofoon, "Kaptein! Span die seile!" in 'n tipiese Fokofpolisiekar-aksent. My Kry-vir-jou!-vinger verdwyn saam met die woorde van Kurt Darren.


Dit was aaklig. Al die afwagting en uitsien was verby. Ons selfone het die res van die aand oortyd gewerk soos almal ons gebel het om uit te vind of ons gewen het. "Moenie worry nie, dis nog steeds 'n prestasie om genomineer te word." Whatever!


Ek dink toe by myself dat ek nooit weer vir enigiets genomineer wil word nie. Dis net te wreed. Ek meen, hoe moet daai laaste nege verloorders en hulle families van die Idols nie voel nie, wat nog van die Idol wat tweede eindig? Musiek is nie veronderstel om 'n kompetisie te wees nie. Anders het ek mos verniet rugby op skool gelos om kitaar te speel. Dit was alles verniet.


'n Maand daarna was ons oor dit. Ons haat nie meer vir Van Coke Kartel nie. En as ons gelukkig genoeg is om ooit weer genomineer te word, sal ons net gaan vir die gratis meatballs, hoendervlerkies en om te lag vir die jafels wat so erg uitfreak in The Valley of the Waves. En as ons wen sal ek my vinger vir myself hou.


 


 

Gebruikers Kommentaar (1)

  • Maryke
    8 months ago
    Kom Paarl toe Willem!Julle moes gewen het!
Bladsy 1 van 1
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar