Wen is nie alles in lewe

  • 1
    like dit
  • 0
    like dit nie

Dit het byna my hele tienerlewe geduur voordat ek tot die volgende besef gekom het: Wen is nie die alfa en omega nie.

Nee, ek sê dit nie omdat ek verloor het en myself wil troos nie. En ek gaan ook nie jok nie, dit is lekker om die septer te swaai, maar sukses kom in meer vorme as koue, harde oorwinning.
Jou lewe sal 'n baie goor plek wees as jou wêreld om wen draai, want daar is altyd iemand sterker, slimmer en mooier as jy.

Moet my nie verkeerd verstaan nie - ek het nie 'n probleem met 'n bietjie gesonde kompetisie nie. Ek is 'n mededingende mens. En mense is van nature mededingend. Dit help jou om te presteer.

Nou wie is ek dan om die natuurlike aard van wen en verloor te bevraagteken?

Daar is ongelukkig mense wat dinge heeltemal te ver vat.

Lede van die hiper-mededingende spesie irriteer my grensloos en gaan gewoonlik soos besetenes te kere as hulle wen.
"Geluk, ou pel, jy het my geklop in Monopoly - wat nou?"

Daar is mense wat net nie kan ophou meeding nie. Hulle is voor in die koor om te wys hoe goed hulle kan sing, hoe goed hulle kan dans, pool speel, debatteer en toutrek. Die lys gaan aan en aan. . .

Die punt is: In die een of ander stadium gaan iemand hulle die loef afsteek en sommer hard ook. Dit is vir sulke mense dikwels so 'n bitter pil om te sluk dat dit hulle sommer heelweek depressief maak.

Persoonlik verkies ek liewer meer laid back mense om mee uit te hang as die hiper-mededingendes. Ek dink die mense wat nie heeltyd hoef te wen om hulle selfbeeld op te blaas nie, hou in elk geval van hulself.

Dit is hartseer dat party ouers ook nog nie die wen-verslawing afgeskud het nie. Want hulle druk hulle kinders om te presteer en gooi 'n tantrum as hulle verloor.

Doen dit maar as jy die kind se selfbeeld wil boost, maar moenie hulle druk sodat jý 'n A+ in die "ouer-kategorie" kan kry nie.
'n Goeie voorbeeld is al die laerskool-mammas wat hul kinders se take doen.
"Baie geluk, mevrou, u het 100% vir u kind se taak gekry. En u kind? Hy kan steeds nie in 'n reguit lyn knip nie."

Awe vir al die mense wat nie goud moet smaak om hul lewenshonger te stil nie.
Stop dié foolishness, want in die wen-wen-wen-speletjie is daar nooit wenners nie, slegs verloorders.

- Christiaan du Plessis is een van JIP se JJ's en is in gr. 12 aan die Hoërskool Swartland in Malmesbury.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar