Raak jy op Valentynsdag aan die koer, of probeer jy koes vir Kupido se pyltjies so goed jy kan? Doen gerus dié quiz om vas te stel waar jy inpas.
Begin hier
Merk die stellings wat die beste opsom hoe jy op Valentynsdag optree:
'n Diep kyk by die skool se atletiekbyeenkoms is vir jou genoeg rede om 'n Valentynsdaggeskenk vir iemand te stuur. Jy fokus al jou aandag op een persoon.
Jy is só mal oor die ander persoon (met wie jy nog nooit gepraat het nie) dat jy die kantlyn van jou wiskunde-handboek gebruik om 'n strokiesprent van jul liefdesverhaal (wat nog moet gebeur) te teken.
Jy sneak by die skoolkantoor in om vir die hele skool 'n afkondiging te maak waarin jy jou ewigdurende liefde aan jou crush verklaar. Jy het nog net eenkeer met hom of haar gesels.
Jy het nie eintlik tyd om verlief te raak of om dit te hanteer as 'n ou of meisie 'n crush op jou het nie nie. Been there, heart broken, got the T-shirt.
Jy reël die hele date self en maak alles self: van die plekmatjies tot 'n spyskaart wat jy met tydskrifknipsels maak, en handgemaakte sjokolade en pizzas.
Jy vat jou date McDonald's toe en maak dit duidelik dis omdat dit die goedkoopste opsie is.
Jy reël 'n maanligpiekniek in jou ouers se tuin, met kerse, 'n mandjie vol eetgoed soos aarbeie en room en 'n playlist met gewilde liefdesliedjies.
Jy verneem jou crush hou van olifante. Jy reël 'n olifantsafari in die maanlig as Valentynsdag-date.
Jy vou 'n origami-blommetjie en skryf daarin 'n liefdesgedig waarin jy die voorletters van jou crush se naam aan die begin van elke sin gebruik.
Jy gee vir jou Valentyn 'n boks sjokolade of 'n bos rooi rose en 'n kaartjie met hartjies voorop waarin jy 'n mooi liefdesgedig aanhaal.
Jy kies die Valentynsdagkaartjie in die winkel met die foto van 'n snaakse dier voorop en 'n rude grappie binne-in. Of jy stuur sommer net 'n SMS.
Jy gebruik al jou sakgeld vir 'n paar maande en vra jou date se gunsteling-band om haar by haar huis te gaan serenade met liefdesliedjies.
Jy onderteken jou Valentynsdagkaartjie net "anoniem", maar jy is taamlik seker die ou of meisie sal weet van wie dit kom.
Jy stuur sommer vir 'n paar ouens of meisies 'n rooi angelier of goedkoop sjokoladehartjies.
Op Valentynsdag vra jy die plaaslike sirkus of hul olifant 'n bos met 50 bloedrooi rose vir jou Valentyn by die skool kan aflewer. Jy maak 'n reuse-banier as kaartjie en hang dit oor die olifant se rug.
Jy vind uit die ou of meisie van wie jy hou, is mal oor pandabere en maak 'n pandabeer uit klei, of verf 'n skildery van een as Valentynsdaggeskenk.
Al jou aandag word op een ou of meisie gefokus; en as dinge nie uitwerk nie,
figure jy daar is altyd nóg 'n Valentynsdag.
Jou Valentyn sê hy of sy voel nie dieselfde as jy nie. Jy maak jouself aan 'n boom vas voor jou Valentyn se klaskamer en sing "My Achy Breaky Heart''. Herhaaldelik.
Jy maak asof jy nie omgee as jy nie 'n geskenk of kaartjie terugkry van die ou of meisie vir wie jy iets gegee het nie.
As jou Valentyn nie vir jou 'n kaartjie of geskenk teruggee nie, skryf jy 'n dramatiese liefdesgedig oor gebroke harte en skryf dit in vir 'n kompetisie.
Meestal rooi
Romanties
Jy het 'n gebalanseerde en realistiese uitkyk op die liefde en op Valentynsdag.
Jy beskerm jouself 'n bietjie deur jou daarop voor te berei dat die ou of meisie van wie jy hou, dalk nie jou gevoelens deel nie. Jy besluit vooraf jy sal oukei wees daarmee.
Jou liefdestaal is "gee". Jy hou daarvan om ander mense te wys hoe jy voel deur vir hulle geskenkies te gee waaroor jy nagedink het.
Jy hoef ook nie bang te wees om af en toe buite die boks te dink nie.
Meestal groen
Sinies
Jy glo nie juis in die liefde nie. Jou hart is dalk al 'n paar keer gebreek.
Eintlik wil jy ook aanvaar word en liefgehê word, maar dis makliker om iemand anders in die verleentheid te stel as om kanse te waag.
Jy verkies om iemand anders vir 'n ride te vat eerder as om ernstig te wees, want dan sal dit vir jou makliker wees om jouself te beskerm.
Wees versigtig om ander mense nie seer te maak nie. Dalk hou daai meisie of ou wat jou so uit-check, régtig van jou.
Meestal pers
Kreatief
Jy gee die tipe geskenke wat die ontvangers daarvan jare daarna nog gaan onthou, of iewers in 'n boks sal bêre.
Vir jou gaan Valentynsdag eerder oor die reis as oor die eindbestemming.
Jy raak heeltemal meegevoer by die gedagte aan Valentynsdag en hoe jy jou gevoelens kan wys. As die dag dan verby is, voel jy 'n bietjie depro.
Dink 'n bietjie of jou emosies régtig so groot is soos die woorde wat jy gebruik - anders kan jy maklik 'n ou of meisie verwar.
Meestal pienk
Over the top
Jy is nie bang om álles te gee nie.
Maar wees versigtig, want jy kan iemand anders maklik in die verleentheid stel. Dan hardloop die persoon dalk in die teenoorgestelde rigting en nié reguit in jou arms in nie.
Gee is makliker as ontvang. As iemand nie dieselfde as jy voel nie, plaas jy daardie persoon met jou groot gebare in 'n moeilike situasie.
Los over the top Valentynsdae vir wanneer jy in 'n verhouding is, of maak baie seker die ou of meisie deel jou gevoelens.
Dié quiz is saamgestel deur Riëtte Grobler met behulp van die verhoudingskenner Elmari Craig (www.elmaricraig.co.za).