Tennisspanne van regoor die land het verlede week by die Groenkloof-tennisbane in Pretoria byeengekom om sake in die vyfde Absolut Menlo-tennistoernooi uit te spook.
Die Hoërskool Menlopark is die gasheer van dié jaarlikse tenniskompetisie, maar vanjaar se byeenkoms het aan een van sy buurskole behoort.
Die Hoërskool Waterkloof se meisies-tennisspan het uiteindelik as die topspan uit die agt deelnemende skole geëindig. Die Hoër Meisieskool Oranje van Bloemfontein se tennisspelers het, soos gebruiklik, ook weer op die toernooi hul staal getoon en tot die eindstryd gevorder, waar hulle teen die Hoërskool Waterkloof die knie gebuig het.
Die Klofies het Paarl Gim en die Hoërskool Cradock elkeen met 6-0 oorrompel. Oranje het in die groepfase teen Klofies vasgeval voordat hulle tot die eindstryd deurgedring het.
Waterkloof was onstuitbaar en het die Afrikaans Hoër Meisieskool met 4-0 verslaan voor hy in die eindstryd weer teen die Bloemfonteiners gewen het, met 4-1.