Wat skuil in jou naam?

  • 2
    like dit
  • 1
    like dit nie

Wat is jou naam?

Het dit simboliese betekenis, of het jy dalk jou naam geërf?
Kan mense dit uitspreek of spel? Hoe voel jy daaroor?

Ek het agtergekom name is deesdae veel anders as toentertyd. Dit is nie meer soos in die ou dae waar jou naam waarskynlik jou oupa, oupagrootjie, oeroupagrootjie en syne s'n óók was nie.

Om die waarheid te sê, soos wat ouers hul kinders deesdae name gee, is die wêreldorde sommer heeltemal op die kop gekeer. En dan verander mense boonop hul name op die vreemdste maniere.
Ek lees nou die dag op die internet 'n artikel oor 'n 19-jarige Britse seun, George Garrat, wat sy naam wettiglik verander het na: "Captain Fantastic, faster than Superman, Spiderman, Batman, Wolverine, The Hulk and The Flash combined".

Kan jy jou indink wat sou gebeur as hulle hierdie ou se naam by die skool se prysuitdeling moet uitlees?

Celebs is voor op die vreemde-name-wa. Plekke, kos en selfs handelsmerke is vir hulle goeie keuses as dit by babaname kom.
Soos tennisspeler Arthur Ashe wie se babadogtertjie Camera heet; die sjef Jamie Oliver se dogters Daisy-Boo en Poppy-Honey; aktrise Gwyneth Paltrow se dogter, Apple, en sanger Toni Braxton se twee seuns, Denim en Diezel.

Dink net hoe dit sou wees as dié naammode in Suid-Afrika begin het. Ek weet nie van julle nie, maar as my juffrou in die klas moes raas met Blou Bul de Lange of Toyota du Toit sou dit effens weird wees.
Party mense keer die konsep dat name iets beteken heeltemal op die kop en kan nogal 'n sielkundige blok, of ego boost, gee vir mense wat glo hul name het dieper betekenis.

Soos www.urbandictionary.com, waar name se betekenis verdraai en verander kan word soos dit jou en jou vriende pas.
Volgens dié webwerf beteken Mandy dat jy skaam, stil en intelligent is en nie bewus is van jou innerlike skoonheid nie. Dan kan jy dit só in 'n sin gebruik: "You are a real Mandy!"
Ek hoop maar my naam beteken nie regtig wat Urban Dictionary beweer nie.
Volgens hulle beteken Lizelle iemand wat gedoem is om te misluk.
En dan gebruik hulle dit só in 'n sin: "Man, that guy is such a Lizelle."

Ja, dit suck. Maar die snaaksste van alles is die betekenis van Malema wat iemand op Urban Dictionary vasgelê het: "Refers to a person with a low IQ who says stupid things."

Jy kan gerus gaan kyk, ek het dit nie opgemaak nie.
Dalk kan ons tog iets van Malema leer. Want of jou naam nou Sannie, Kosie, Martinique of Bubbles is, jy het net een naam.
Moet dit nie weggooi nie.

(Lizelle Pistorius is in gr.11 aan die Hoërskool Middelburg.)

Gebruikers Kommentaar (1)

Bladsy 1 van 1
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar