Wat het geword van goeie maniere?

  • 1
    like dit
  • 0
    like dit nie


Dit tref jou uit die bloute.

Die een oomblik sit jy nog heerlik met jou vriende en gesels, stuur 'n SMS of twee en slurp aan jou koeldrank terwyl jy tussendeur morsig aan jou springmielies kou, salig onbewus van die drama wat hom voor jou op die silwerdoek afspeel.

Dan tref 'n skoen jou agterkop. Binne-in die skoen is 'n voet, vas aan 'n onderbeen, aangedryf deur 'n bobeen wat met ure se geduld en sweet en baie, baie hurkskoppe en stelle trappe opgebou is spesifiek vir dié doel - om jou teen jou agterkop te trap omdat jy nie maniere het nie.

Jy hoef nie eens geskok om te kyk nie - ja, dis ek. Ek wat vir my fliekkaartjie betaal het en spesiaal 'n verband op die huis uitgeneem het om koeldrank en springmielies te koop; ek wat graag in vrede daar in die donker wil sit en - skokkend genoeg - wil hóór wat Brad Pitt sê! Dit mag dalk vir jou 'n verrassing wees, maar mense gaan fliek nie om na jou en jou pêlle te kyk nie.

As ek jou selfoongesprek wou hoor, sou ek al agter jou aangeloop het of sommer die selfoon uit jou hand gevat het.
As jy jou vriende lanklaas gesien het, maak soos opgevoede mense en gaan sit in 'n koffiewinkel. Of in jou kamer. Of in die middel van 'n baie besige snelweg.

As jy kort-kort vir iemand moet vra om vir jou die fliek te verduidelik, is jy te dom daarvoor. Vat jou R800 se springmielies en gaan eet dit buite. In die middel van 'n baie besige snelweg.

As jy nie twee minute sonder 'n SMS kan gaan nie, het jy 'n afhanklikheidsvormende persoonlikheid en kan jy jou sommer nou al oorgee. Aan wat ook al jy wil. Daar is baie daarvan daar buite. Meestal in die middel van 'n baie besige snelweg.

As jy sukkel met water op die enkels en dus jou bene in die lug op my sitplek se ruglening moet hou, sal ek jou vinnig en sekuur van hierdie kwaal genees. Bly asseblief sit tot ná die rolprent voordat jy na jou voetjies begin soek.

As jy so gulsig wil wees om vyf liter Coke in twee uur te probeer uitdrink, kan jy verwag dat jy elke tien minute die badkamer sal moet besoek. Kies die sitplek heel agter naby die uitgang. Glip vinnig en saggies uit. Dit is nie nodig om jou vriende langs jou per SMS te laat weet dat jy badkamer toe gaan nie.

Hoe het dit dan gebeur dat hoflikheid en goeie maniere, verdraagsaamheid en bedagsaamheid net so kon verdwyn? Waar is dit heen? Hoekom kan mense nie meer hul werk ordentlik doen nie? Wat het geword van respek? Hoekom loop mense voor mekaar in, stamp aan mekaar, gluur mekaar aan en dink oor die algemeen net aan hulleself? Waar is al die goeie mense heen?

Totdat iemand hulle opspoor, beter jy egter in jou spoor trap. Ek is nie 'n aangename mens nie. Ek skrik nie vir 'n scene nie. Ek sal oor drie rye mense klim en jou dwing om jou vyf liter Coke deur jou neus op te suig. En jy beter dankbaar wees die snoepie by die fliek verkoop net Smarties (@R600 vir die klein boksie) en Astro's (@R789 vir die klein boksie). Enigiets groter en wel, kom ons sê maar net dat die middel van 'n baie besige snelweg na ‘n aangename alternatief sal lyk.

Intussen stel ek voor jy sit tjoepstil met jou hande mooi soet op jou skoot en staar wit in die gesig en met groot oë na die skerm. Moenie links kyk nie. Moenie regs kyk nie. Moenie jou oë knip nie. Moenie asemhaal nie.

Want dit kan dalk wees dat ek oordryf, maar is jy regtig bereid om daardie kans te waag?


Gebruikers Kommentaar (1)

  • blackhuff
    5 months ago
    Stunning article! Ek stem saam 100%
Bladsy 1 van 1
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar