Ek delete gewoonlik e-mails met springende baba's, maar daar is een wat lui 'n goeie vriend sal jou uit die tronk uit bail, terwyl 'n wáre vriend langs jou sal sit en sê: "Nou's ons darem in die moeilikheid, jong . . ."
Ek toets die verskil tussen goeie en ware vriende aan die volgende:
Kan ek in hul huis instap en die yskas oopmaak?
Of kan ons voor mekaar poep en die geselskap voortsit sonder dat enigiemand boe of ba sê? Of - soos my een vriendin glo - sy moet eers iemand se tone sien en met hare vergelyk . . .
Ek het van skooldae tot universiteitsdae tot werksdae verskillende "soorte" vriende gehad wat werklike vriende was . . . soos die jare verander het, en ék verander het.
Op skool was my vriende altyd die slimstes, anders het ek dit nooit deur Wiskunde SG gemaak nie. Dit was meisies voor wie ek my hart kon uithuil toe ek nie saam met hulle as prefek gekies is nie.
Dit was ook die soort vriendinne wat nie gelag het toe ek gevra het waarvoor 'n mens 'n kondoom benodig nie.
Op universiteit het ek vir die eerste keer in my lewe klas gebunk, danksy hierdie wispelturige groep vriende. En dagga gerook. (Sorrie, Mammie.) Dit was mense wat my vrae laat stel het oor die lewe en myself.
En toe begin werk ek - en joernaliste word my vriende. Vriende met wie ek oor alles van politiek tot godsdiens en rock 'n roll kan gesels, en steeds daarna 'n karaoke-treffer sing.
Nou vra ek die vraag. Hoe kies 'n mens jou béste vriend? Die een wat saam met jou in jou oranje pak in die tronk gaan sit?
My antwoord is maklik. Kies iemand van die teenoorgestelde geslag.
Mans en vroue kán platoniese vriende wees, sonder die Hollywood-storielyne van hoe hulle altyd maar bymekaar gepas het.
Ek het 'n skatkis van 'n vriend in 'n man gevind wat ek vir niks op aarde sal verruil nie.
Ons stry nooit oor dieselfde ou nie. Hy leen nooit my lip gloss nie. Hy kyk my nooit vreemd aan as ek 'n double burger met tjips en 'n Coke verorber nie.
Mans se arms is gewoonlik ook sterker en wyer vir dae wanneer die trane rol. En hulle is 'n goeie afskrikmiddel vir lastige vente.
Daar is nie enige mededinging wanneer dit by mans kom nie. Dis wit of swart vir hulle.
En hulle tone is gewoonlik ook leliker as joune.