Catherine huur vir Chloe om haar man te verlei sodat sy bewyse van sy ontrouheid kan kry.
Chloe
Drama
Met: Julianne Moore, Liam Neeson,
Amanda Seyfried.
Regie: Atom Egoyan
Iemand wat van buite na die Stewart-huishouding kyk, sou dink dis die volmaakte kerngesin.
Catherine (Moore) is 'n suksesvolle ginekoloog, haar man, David (Neeson), is 'n dosent in musiek.
Hulle deel hul luukse, moderne huis met hul seun, Michael, 'n begaafde jong pianis.
Maar onder die aantreklike uiterlike skuil daar heelwat emosionele verwydering. Want Michael praat skaars met sy ouers en tussen Catherine en Michael het daar oor die jare 'n stramheid ontwikkel, 'n afstand wat kom wanneer 'n paartjie verby mekaar begin leef.
Wanneer David sy vlug huis toe en dus ook sy verjaardagpartytjie mis, begin Catherine onraad vermoed. Haar man is 'n innemende persoon wat goed oor die weg kom met sy studente. Dalk té goed?
Sake neem 'n wending wanneer Catherine paaie kruis met 'n beeldskone jong gesellin, Chloe (Seyfried).
Sy stel aan Chloe die taak om David te ontmoet en in die versoeking te bring, om te sien of hy daarvoor val, en sodoende haar eie vermoedens te bevestig.
Wat veronderstel is om 'n eenmalige voorval te wees ontwikkel egter in 'n reeks ontmoetings, met Chloe wat aan Catherine terugrapporteer in eksplisiete seksuele besonderhede.
Dit neem nie lank nie om te besef dat hierdie 'n baie gevaarlike spel is, 'n Pandora se kissie wat liefs moes toe gebly het.
Jy kan maar net hoop Catherine is voorbereid vir die nadraai van haar keuses.
Die fliek kyk na die wyse waarop mense 'n situasie lees en verskillende interpretasies daaruit kan vorm.
Terwyl jy danksy die stewige vertolking deur Seyfried reeds vroeg besef daar is iets vreemds aan Chloe, is dit Catherine se reis wat die kyker se aandag hou.
Dis interessant om te sien hoe haar motiverings verander. Wat as 'n soeke na bewyse begin het, word vir haar 'n manier om (al is dit tweedehands) weer na aan haar man te voel.
Moore is altyd 'n staatmaker op die skerm, ongeag die genre of gehalte van die flieks waarin sy speel. Haar uitbeelding is boeiend en verhef dié fliek bo iets wat bloot met sy erotiese inhoud wil smous.
Die regisseur, Atom Egoyan, hou die spanningslyn redelik styf gespan, dis net jammer hy laat die toutjies hier en daar te maklik gaan.
Die klimaks kon meer impak gehad het en die einde is veel meer gerieflik as wat (onder die omstandighede) sin maak.
Ouderdomsperk: 16TNS. Tydsduur: 97 minute.