Rook kan jou dood veroorsaak. Maar nogtans leer duisende tieners elke jaar dié gewoonte aan. Is dit vir die verslawende nikotien of skuil iets dieper agter die rookwalms op skool? Rozanne Els en die JIP-joernaliste (Ilke Opperman, Mia van Tonder, Mia Joubert, Adriaan Nieuwoudt, Leandi Eygelaar en James de Villiers) het gaan uitvind.
Sommige tieners sê hulle het begin rook vir sports, ander weens groepsdruk, maar Ken Resnick, 'n opvoedkundige sielkundige, sê al dié redes het dieselfde oorsprong: 'n lae selfbeeld.
"Alle kinders word op skool aan rook blootgestel, maar terwyl van hulle besluit om te begin rook, besluit ander weer daarteen.
"Dit is die kinders met 'n lae selfbeeld wat daarby ingetrek word," sê hy.
"Dikwels gee dit hulle selfvertroue en laat dit hulle deel van die groep voel."
Kinders wat probleme tuis met hul ouers ondervind, is ook geneig om te begin eksperimenteer as 'n manier om teen hul ouers se gesag te rebelleer.
Volgens Resnick ervaar die meeste tieners wat rook angs omdat hulle dit 'n geheim probeer hou en dan selfs meer rook om van dié angs ontslae te raak. En ja, dit kan tot dwelmgebruik lei.
"Sigarette is net 'n klein begin. Afhanklikheid daaraan kan ook tot afhanklikheid van ander dwelms lei."
Gedurende JIP se ondersoek het dit geblyk dat talle tieners dagga bo sigarette verkies "want dit ruik nie so sleg nie". Baie glo ook die gesondheidsrisiko's is minder.
Daar is volgens Resnick net een manier om tieners te help om op te hou rook en dit is om hul selfbeeld te versterk.
Wat sê ROKERS?
Eugene Swart, gr. 12: "Ek het nie drome of doelwitte nie; dus sien ek geen rede waarom ek my gesondheid moet oppas om langer te leef nie."
Jeffrey Strydom, gr. 11: "Ek rook om teen gesag te rebelleer."
Ian Burger, gr. 10: "Ek het begin rook as gevolg van groepsdruk, maar rook nou net uit gewoonte."
Anoniem, gr. 11: "Rook laat jou kalmeer. Dit verminder ook jou stresvlakke."
Anoniem, gr. 11: "Ek kan makliker met mense gesels wanneer ons in 'n groep staan en rook."
Shané Maartens, gr. 12: "Ek rook omdat dit my beter laat voel en laat ontspan. Dit hou my weg van ander verslawings."
Wat sê NIE-ROKERS?
Luzanne Marais, gr. 11: "Ek sal beslis nooit rook nie, want geel tande, gevlekte vingers, slegte vel en rookmufhare is nie my idee van cool wees nie."
Megan Botha, gr. 12: "Ek haat die reuk van rook. Ek sal ook nie daarvan hou as my ou rook nie, want ek wil nie 'n asbak soen nie."
Ian van der Westhuizen, gr. 12: "Ek hoef nie te bewys ek is cool nie. Mense wat rook op skool, probeer net 'n statement maak."
Anneli Smit, gr. 11: "Ek rook nie, want ek het familielede aan longkanker verloor, en weet wat die gevolge van rook is."
Charmone Harris, gr. 11: "Ek sal nooit rook nie, omdat ek die mense om my in ag neem."
Annika van Rooyen, gr. 10: "Ek dink ander leerders rook net om mekaar te impress."
Sal jy dit wéér doen?
Demi Engelbrecht is nou in gr. 10 en het in gr. 8 begin rook om stres by die skool en by die huis te beheer. Sy het intussen opgehou.
"Ek sal dit nie weer doen nie. Dit het my laat sien watter vriende vir my omgee en my probeer help het."
Cornel de Winnaar sê hy het in gr. 9 begin rook en het aangehou omdat dit vir hom lekker was om iets skelm te doen.
Hy is nie spyt hy het begin rook nie en sou inteendeel nou minder bang gewees het om dit te doen.
"Dit was vir my 'n manier om myself te vind. Ek dink 'n mens moet in die lewe dinge probeer en self besluit. Dit was deel van grootword."
Melisa Georgiou het in gr. 9 begin rook. Hoewel sy steeds rook, wens sy sy het nooit begin nie.
"Dit het 'n baie nadelige effek op jou gesondheid en jou beursie."
Gesondheidsgevare
Van 'n rokershoesie tot kanker. Hier is net 'n paar van die gevare wat rook vir jou gesondheid kan inhou:
- beroerte;
- kanker (onder meer maag-, long-, mond- en keelkanker);
- die verswakking van reuk- en smaakorgane;
- plooie en velprobleme;
- emfiseem;
- brongitis;
- verswakte bene en spiere en
- groter vatbaarheid vir infeksies soos verkoue en griep.
Bron: Health24