Vriende: engeltjies sonder vlerkies!

  • 2
    like dit
  • 0
    like dit nie

"Moenie by die hemel gaan soek na die engele nie, soek by die engele na die hemel," het C.J. Langenhoven geskryf. Lé-Anké de Lange glo vriende is die engele wat hulle vlerkies vir armpies verruil het.


Het jy al ooit gewonder waarom vriendskap so belangrik is?
Dalk is dit omdat vriende se kragte soms effens bonatuurlik is?

Vriende weet alles van jou, maar hou steeds van jou. Vriende verstaan altyd en ondersteun jou. Hulle weet presies wanneer om wat te sê, én hoe om dit te sê, maar hulle weet ook wanneer dit veiliger is om eerder stil te bly. Hulle lag vir jou as jy jou naam totaal en al krater gemaak het, maar jy kan eenvoudig nie vir hulle kwaad raak of bly nie. Hulle het ‘n manier om altyd te weet in watter bui jy is en hoe om jou dan te hanteer. Hulle verstaan waarom jy omgekrap is en hulle weet hoe om jou weer beter te laat voel. Engelagtig? Nie waar nie?

Daar is die oulikste engeltjies, manlik én vroulik, in my eie lewe - elkeen uniek op sy eie manier. Soms voel dit asof hierdie engeltjies in duiweltjies verander. Ons kan stry en baklei oor die snaakste goedjies, maar die lag-oomlikke is soveel lekkerder en beter as die baklei en stry. Ons kan oor amper alles gesels. Soms wissel ons geselsies van enige iets van oulike outjies tot ouers en selfs spy's.

Daar is klein dingetjies in ons lewe wat ons help om daai engeltjies nooit te vergeet nie - soos foto's, Facebook, liedjies en plekke.

Ek glo vriende is engeltjies wat hul vlerkies verruil het vir armpies sodat hulle ‘n lekker stywe drukkie kan gee wanneer hulle sien jy het dit nodig. Hulle sê mos die taal van ‘n glimlag word deur almal verstaan, maar ek glo die taal van vriendskap kan ook deur almal verstaan word, omdat dit juis so spesiaal is.

Soms gebeur dit dat ons vriende verloor of dit nou is as gevolg van dood, of sommer maar net iets wat skeef geloop het tussen ons. Ons sal altyd ‘n spesiale plekkie vir daardie persoon hê, want ‘n mens gee nie sommer net'n vriendskap op nie.

En moenie dink as jy een verloor jy nie nog een gaan kry nie. Nee, natuurlik nie. Ons kry gewoonlik nog een wat baie beter is en wat ook so ongelooflik spesiaal is. Het jy al ooit probeer kwaad bly vir jou vriende? Dis onmoontlik. Ek weet, want ons is nie gemaak om kwaad te bly nie.

Vriendskap
is die beste geskenk wat jy kan hê. En die beste van als is dat elke vriend en vriendin anders is - soms is dit jou ma, of soms jou broer en soms is julle glad nie eers familie nie. Hoe dit ook al mag wees, wees dankbaar vir elkeen. Volgende keer as jy dalk kwaad raak vir een van daai spesiale engeltjies kan jy jou oë toemaak en dankie sê vir die voorreg om so wonderlike mensie in jou lewe te mag hê. Onthou, baklei met ‘n drukkie.
Die beste van als is dat jy nie vriendskap kan ontvang sonder om vriendskap terug te gee nie - so dis voordelig vir almal. Is dit nou nie ‘n "great deal" nie? Vriende is daar sodat ons ‘n bietjie hemel op aarde kan hê. En as jy 'n vriend is, is jy tien teen een self iemand se engel.


 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar