Die eerste twee rugbyspanne het die naweek reeds hul plek bespreek in die Kovsiestreek-kompetisie, waarvan Volksblad 'n medeborg is.
Vrede en Hennenman het met hul oorwinning oor onderskeidelik Wessel Maree en Ficksburg nie net tot die eindstryd van die Griffons se platteland-liga deurgedring nie, maar ook die halfeindstryde van die Irawa-liga (vir klein skole).
Hennenman het in 2008 in die eindstryd van die Irawa-liga teen Louis Botha die knie gebuig. Die twee spanne spook eerskomende Saterdag sake in die eindstryd uit om te bepaal wie onderskeidelik teen die Vrystaat en die Griekwas se kampioen sal kragte meet.
Die Vrystaatse kampioen word Saterdag bepaal wanneer St. Andrew en President Steyn mekaar in die eindstryd pak. Die wenner kom teen die verloorder van die stryd tussen Vrede en Hennenman te staan. Saints is onoorwonne in die Vrystaatse B1-liga, terwyl die Steyners die verdedigende kampioen van die Irawa-liga is.
Hartswater is onoorwonne die in die Griekwas se liga vir middelgroot skole. Die eindstryd van die liga vind Saterdag tussen Hartswater en De Aar in Kimberley plaas.
In die Shimla-liga (vir middelgroot skole) sal die wenner tussen Noord-Kaap en Diamantveld in Saterdag se FNB Classic Clash waarskynlik die Griekwas verteenwoordig. Die Noord-Kaap is egter die verdedigende kampioen en ná goeie oorwinnings oor Duineveld (52-22), Griekwas o.19 (42-0) en Witteberg (83-0) die laaste paar weke ongetwyfeld die gunsteling.
In die Noord-Vrystaat sal die wenners van die twee halfeindstryde wat Woensdag in Welkom beslis word tot die liga deurdring. Die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad pak Welkom Gimnasium in die een halfeindstryd, terwyl die Hoërskool Kroonstad teen Hentie Cilliers kragte sal meet. Die Blouskool se enigste nederlaag in die liga, buiten die een teen die Rooiskool Saterdag, was teen Henties.
Die Rooiskool se enigste nederlaag van die liga was ook teen die span van Virginia. Die Vrystaatse A1-liga se kampioen word Saterdag in die eindstryd van die liga tussen Sentraal en Louis Botha beslis. Tralies is die gunstelinge ná hul goeie spelpeil, maar eindstryde het al verrassings opgelewer.
In die Jip-liga (o.15-spanne) is Diamantveld en Noord-Kaap die Griekwa-spanne wat kan deurdring. In die Noord-Vrystaat het Rooiskool, Voortrekker, HTS Welkom en Gimnasium tot die halfeindstryde van hul liga deurgedring. Die Vrystaat se verteenwoordiger sal tussen Sentraal en Louis Botha wees. Die spanne pak mekaar Saterdag in die eindstryd.