Vandag dalk nog beter as die ‘goeie ou dae’

  • 1
    like dit
  • 0
    like dit nie

Ek en my vriende praat nou die dag oor hoe ons na die "goeie ou dae" verlang. Ek sal énigiets doen om net so 'n week weer in gr. 1 te wees.

Wat het geword van kaalvoet skool toe gaan en pouses op die veld touchers speel en elke dag na iemand anders toe gaan en net eenvoudig vra: "Kan ek saam speel?"

Deesdae is dit net jy en jou kêrel of vriendin wat onder die boom sit en kuier en praat oor die alledaagse dinge wat julle mal maak en die groot eksamen wat voorlê. Wat het geword van die dae toe ons mammas ons kosblikke so lekker gepak het dat ons nie kon wag vir pouse nie? Of toe R5 se loslekkers nog baie was by die snoepie en ons alles kon eet, van suurwurms en monkey sherbet tot eiertjies en Chokkie Choks, sonder om bekommerd te wees oor wat dit aan ons lyfies sal doen? Deesdae sien jy almal net rondloop met 'n pasteitjie, toebroodjie, gedroogte vrugte en 'n bottel water (wat jy maar self moet voorsien) en as jy nie een van dié goed eet nie, is jy op 'n "dieet".

Jipper, wat het geword van die dae toe jy elke periode 'n ander kêrel of meisie gehad het? Dit was so eenvoudig: "Uhm. Hallo, Sannie. My vriend Piet vra jou uit." Waarop Sannie eenvoudig antwoord: "Sê vir hom dis reg, maar net tot Vrydag."
Nadat julle nou amptelik uitgaan (of kys) hoef julle mekaar nie te bel nie, nie te SMS nie en nie met mekaar te praat nie.
Heng! Julle hoef mekaar nie eens te groet nie!

Deesdae het julle eers 'n "ding" vir mekaar, dan het julle iets aan, dan is julle saam en dan gaan julle uit. Nee wag, eers is julle saam, dan hou julle van mekaar en dan. . . ag tog, ek weet self nie eens meer wat is die verskil nie. Maar wanneer jy vandag amptelik uitgaan, moet julle aan mekaar vassuig soos 'n siamese tweeling.

Wat het geword van: "Mamma, help my asseblief met my taak" en "Natuurlik"?

Deesdae is dit: "Help my bietjie met hierdie taak, ek is siék besig." Waarop Ma antwoord: "Ry biblioteek toe of Google dit!"

Ai, Jippers, baie het verander van die jaar 2000 tot nou. Maar waar jy ook al in jou lewe gaan wees, gaan jy terugkyk en dink: "Ek mis die goeie ou dae". Die lewe word net al hoe moeiliker, met al meer verantwoordelikhede. Geniet dus waar jy nou is, want jy mag dalk net eendag terugkyk en glimlag oor wat jy vándag doen. - Lizelle Pistorius is een van JIP se JJ's. Sy is in gr. 11.

Gebruikers Kommentaar (2)


  • 8 months ago
    stuur iets terug

  • 8 months ago
    huil baie
Bladsy 1 van 1
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar