Uniekheid teen hoë prys

  • 1
    like dit
  • 0
    like dit nie

My ma is soos enige ma: awesome. Maar soos enige ma eindig sy ook altyd haar skelsessies met: As jy eendag kinders van jou eie het, sal jy verstaan.

Wel, Moeks, wat jy nié verstaan nie - en wat jou dalk sal bly maak - is dat ek nie nou kinders het om die wyshede van die lewe mee te deel nie. En ek wíl nie eintlik altyd alles verstaan wat jy sê nie. Ek wil foute maak...

Ek wens ek kan dit vir my ma sê, maar al wat ek in lewende lywe doen, is om te smile en te nod, en agteraf tóg my eie agterbakse foutjies te pleeg.

Wees eerlik met jouself. Ons elkeen wil iets doen of sê wat ons ánders as die res sou maak en wat ons name eendag op Wikipedia sou verseker. Google is te alledaags, enige aap op Facebook of Twitter se naam verskyn deesdae daarop.

Vat nou byvoorbeeld my obsessie met 'n tongring. Toe ek op skool was, wou ek met my hele hart en met my hele siel en met my hele verstand my sterkste spier in my liggaam met 'n naald deurboor. En omdat ek te dik is vir 'n naeltjiering wat anyway tussen my maag se voue sou verdwyn, het 'n tongring gelyk soos die ideale accessory om my uniek te maak.

Die probleem was om my ouers in kennis te stel van hierdie verruklike plan.
Natuurlik was dit 'n aantal nee's wat gevolg het met die "As jy eendag kinders het..."-lyn.

Urg.

Maar ek was ten spyte hiervan steeds vasberade en het die een vriendin (wat reeds 'n tongring gehad het) gevra of ek dit skelm sou kon doen. Die oomblik toe sy sê ek sal vir ten minste drie dae nie kan praat nie, het ek geweet my ma wen dié ronde.

Maar a-nee-a. "Iets" moes ek doen, en het besluit om 'n tatoeëermerk te kry. Dis regtig darem nie asof my ma my nog saans bad nie . . .

Ek het besluit op 'n bar code. Agter in my nek, sodat my hare dit kan verbloem.

Nee, natuurlik het ek destyds nie daaraan gedink dat ek eendag my hare soos Posh Spice s'n sou wou sny nie of dat ek nooit weer eendag 'n ponytail sou dra nie. Ook nie dat mense my sou vra "hoeveel kos jy" nie.

My ma het uitgevind. En was nie kwaad nie, "net teleurgesteld".
Ek het opnuut besef ek verkies enige dag die "As jy eendag kinders het"-lyn bo die "Ek is teleurgesteld."
My sogenaamde uniekheid het ek gekry, ja. Maar teen 'n hoë prys.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar