Walrusband
If You Want It Come And Get It
Die debuutalbum van Walrusband, 'n plaaslike groep, is hope pret.
Dis 'n klassieke alternatiewe-rock-album met 'n ligte grunge-ondertoon wat 'n mens laat dink aan Stone Temple Pilots en Pixies, met net 'n knippie moderne invloed van groepe soos The Strokes en Kings of Leon.
Maar dié ouens is allesbehalwe 'n rip-off band. Alles omtrent hul eerste album smelt saam om vir 'n unieke ervaring te sorg.
Daar is boonop genoeg verskeidenheid sodat die luisteraar omtrent heeltyd verras word. Een oomblik luister jy na die rock-klanke van "Black Motorcycle" voordat jy aanbeweeg na die vrolike "Like You Used To Do" en dan word jy meegesleur deur die akoestiese rustigheid van "Wait".
Ongelukkig is die verskeidenheid ook een van die album se foute, want 'n mens kry die idee die snitte is oor 'n lang tydperk geskryf. Dit beteken 'n mens kan nie juis 'n spesifieke gevoel of klank aan Walrusband toeskryf nie.
Uitsonderings is die liedjies "My Life" en "Help Me".
Ek hoop dié twee songs verteenwoordig die toekoms van Walrusband, want ek wou net heeltyd daarna luister.
If You Want It is 'n CD wat die luister werd is. Dié band van Potchefstroom kan beslis dopgehou word.