Tyd dat ‘baby’ ET bel

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Blogger:

Aldu Duminy

Danksy my ouers is ek 'n Suid-Afrikaner.


Ek kon gekies het om 'n getroue landsburger te wees wat op weeksdae aan pap en vleis smul.


Ek kon daarvan gehou het om feeste by te woon waar mense skaapkoppe eet en aan goed soos die grootste pampoene in die omgewing erkenning gee. By die springbokdrol-spoegkompetisie sou my naam áltyd bo-aan die lys wees.


Dit sou my trots maak om CD's soos Dertig Goue Sokkie Treffers en wilde musiekgroepe soos Die Teelepels te sien.


Maar dit doen nie. . .


Moet my tog net nie met jou ouma se vetkoeke bestook nie, maar ek is nie 'n patriot in dié sin nie. Ek kan saamleef met die Suid-Afrikaanse kultuur en wegbly van Karoo-feeste, KFC eet vir middagete of selfs net páp eet en die vleis los. Waaroor ek nié 'n keuse het nie, is of ek die woorde van Suid-Afrikaanse musiek wil hoor, al dan nie.


Glo my, ek het al probeer: Winkeleienaars verander nie die musiek na jou smaak nie. Jy moet maar klere in die bose kringloop van kakofonie koop.


Suid-Afrikaanse melodieë is altyd so eentonig. Dit gaan altyd oor die ou wat vir sy meisie, of sy bokkie, of baby (ek kan nie eens byhou met al die name nie) wil vertel hoe lief hy haar het , of hoe baie hy haar mis. Oor en oor gaan dit net aan en aan. Wat van mý ore? Hoekom moet ek my kop in 'n oorsese rigting draai vir gehalte-musiek?


Dáár skryf mense oor soveel meer. Katy Perry het tot 'n liedjie oor ET, die mannetjie met die rooi vinger in die lug, geskryf. ET! Suid-Afrikaanse sangers moet miskien nie "home phone" nie, maar oorsee "phone" vir wenke. En dan is dit die musiekvideo's. . . Ek luister en kyk nou al die laaste 10 jaar na opkomende Suid-Afrikaanse kunstenaars. Om 'n groepie meisies in eina-bikini's te kry wat in die agtergrond van jou video flou passies uitvoer, gaan nie jou loopbaan ophelder nie.


Doen méér as dit! Ek kyk skaars na die Afrikaanse musiekkanaal MK (net as daar Amerikaanse treffers op is).


Ja, oorsese musiek word op MK uitgesaai, maar Afrikaanse musiek word nooit op Amerikaanse kanale uitgesaai nie.


Dalk het ek te vinnig na 'n volgende kanaal oorgeskakel?


Ek weet nie.


Het jy al na 'n Lady Gaga-video gekyk en daarna na een van die "bokkie-treffers" geluister? Dis teleurstellend.


Ek luister veel eerder hoe Justin Bieber aanhou ­baby, as na een van my landsgenote wat dit doen.


Ek onthou dat daar 'n tydjie gelede berig is oor Juanita du Plessis wie se sangloopbaan 'n ongelooflike piek bereik het. Sy het die meeste albums in Suid-Afrika verkoop.


Die goeie nuus stop nie hier nie. Sy het dit reggekry om meer albums as sangers soos Lady Gaga, Beyonce en Rihanna te verkoop. . .  in Suid-Afrika. Wat 'n eer! 'n Pluimpie vir Juanita! Sy het in haar eie land sangers wat duisende kilometer ver weg is, geklop. Is sy nie in elk geval veronderstel om meer te verkoop nie? Ek wonder hoe haar verkope in ander lande lyk. As daar 'n toeter op jóú waterskoeter is, is ek regtig bly vir jou.


Suid-Afrikaanse musiek moet wragtig sy seile span.


(Aldu Duminy is 'n JJ en is in gr.11 by Hoërskool Langenhoven in Riversdal.)


 

Gebruikers Kommentaar (1)


  • 12 months ago
    Ons WIL vir Aldu Duminy met ons ouma se vetkoeke én koeksisters bestook! Eintlik voel ons verskriklik jammer vir Aldu omdat hy op die verkeerde tyd in die verkeerde land met die “aakligste” musiek, “simpelste” feeste en ‘n bord pap en vleis op die tafel gebore is. Ons wonder of Aldu al buite die grense van Riversdal was, want ons “trots Suid-Afrikaanse tieners” is al keelvol daarvoor om klere te koop in die bose kringloop van Amerikaanse kakofonie. Volgens hom is Suid-Afrikaanse melodieë vreeslik eentonig en is al woorde wat ons sangers ken “baby en bokkie”. Weet hy van die Parlotones, Die Heuwels Fantasties en Die Straatligkinders? Dalk draai hy sy kop te veel in ‘n oorsese rigting en luister hy te veel na sy ouma se langspeelplate… Ons wil voorstel hy moet huis toe “phone” om DIE ANTWOORD te kry. Dis vanselfsprekend dat kunstenaars, soos Juanita, in hulle eie land meer albums gaan verkoop as in ander lande waar almal nie hulle taal verstaan nie. Net soos Aldu, het ons al na ‘n gagga Lady Gaga-video gekyk en ons verkies eerder om na die ou in die “Pep Stores” broek met sy groepie meisies in eina bikini’s te kyk. Volgens Aldu moet Suid-Afrikaanse kunstenaars by Katy Perry kersopsteek en oor “cute” karaktertjies soos ET begin sing. Indien hy, soos hy beweer, al vir die afgelope tien jaar na Suid-Afrikaanse musiek luister, moes hy tog verseker al kennis gemaak het met tannie Carike en Doempie! Aldu, baby, ons “laaik” ons Suid-Afrikaanse musiek net soos dit is en ons trotse harte klop chocolates as dit speel in ons winkels, in ons kamers en op ons TV’s!

    Twee trotse Suid-Afrikaners

    Carien en Lize Hamman
Bladsy 1 van 1
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar