As jy iemand wat soos dit lyk langs die pad sien, gee hulle tog 'n lift, toe. Foto: Matthew Eddey
Beer Adriaanse en Marc Dey begin eersdaags ‘n baie eiesoortige reis reg oor Suid-Afrika. Kom Sondag en die twee vat die lang pad, met net ‘n duim, ‘n gebed en net 'n klein bietjie geld tussen die twee van hulle, om hul doelwit om reg oor die land te ryloop te verwesenlik. Alles in die gees van Ubuntu, die sokker, en omdat hulle kan.
Beer (tromspeler van Zinkplaat) en Marc ('n skrywer van Kaapstad) het aanvanklik besluit om saam ‘n dokumentêre rolprent te maak oor duimgooi in Suid-Afrika, maar by nadenke het hulle besef daar is baie meer agter die idee. "Met die (2010 Fifa) sokkerwêreldbeker-toernooi as agtergrond, kan ons ondersoek instel na presies wat in Suid-Afrika in so ‘n interessante tyd aangaan.
"Dinge kan net interessant raak as ons onsself totaal oorlaat aan die mense wat ons langs die pad gaan raakloop."
Boonop wil albei steeds kan glo dat jy reg oor Suid-Afrika heen kan ryloop, en lewendig terugkeer. En met net 'n klein begroting is daar nie juis omkoopgeld as iets verkeerd sou loop nie.
Terwyl baie mense seker sal dink hulle is mal om so iets aan te pak, vertel Beer die reaksie tot dusver is niks minder as ongelooflik nie. "Nie net oor wat ons doen nie, maar hoe ons dit doen. Ons glo vas die medium is nie die boodskap nie. In ander woorde, die storie self kan op enige moontlike manier vertel word en hang nie van 'n spesifieke formaat af nie.
Dis meer belangrik dat die storie 'n gehoor bereik, as dat ons as regisseurs geld maak. Op ons blog het ons verskeie "exhibitors" wat ingestem het om vir ons ruimte op hulle platforms te maak.
Ons is skrywers wat kom uit multimedia-agtergronde en enigiemand wat kan of wil help om hul eie bydrae aan die storie te maak, en iets daaruit te vat of te skep, is meer as welkom. Sover is daar ongelooflik baie mense wat bydraes lewer."
En vir die doemprofete wat meen hul goedgelowigheid kan hul lewe kos, sê hulle: "nay!"
"Ons goedgelowigheid is die enigste ruilmiddel wat ons het. Ons probeer bewys dat daar op grondvlak niks met Suid-Afrikaners fout is nie, en dat die probleem iewers anders (heel moontlik hoër op) lê. Ons spesifieke doelstellings is om altruïsme in sy rou vorm op te spoor. Soos Homer se "Odyssey" en Hunter S. Thompson se soeke na "The American Dream". Daar kan so baie dinge op die pad skeefloop, dat ons maar eerder besluit het om dit nie eens te lys nie."
Volgens Beer hoop hulle dat hulle met die dokkie kan bevestig dat Suid-Afrikaners ‘n vredeliewende nasie is, en "dat ons verskille nie veel dieper as velkleur is nie".
"Ek was onlangs saam met Zinkplaat met 'n bussie gestrand in KwaZulu-Natal en die hulp en bystand van die plaaslike bevolking het my weereens laat besef dat die verskille van bo af afgedruk word, nie van grondvlak op nie."
Beer en Marc vertrek Sondag (13 Junie) en hoop om 12 Julie terug in hul eie beddens te wees, maar tussen Sondag en dan is hulle oral van Kaapstad, Wilderness, Knysna, Jeffrey's Baai, P.E, Grahamstad, Cintsa, Transkei, Durban, Johannesburg en "oral waar die wind ons vat".
Vir meer oor die twee se reis en dokkie, "On a Thumb and a Prayer", hou JIP dop en besoek ook hul blog. Volg hulle ook op Twitter en op Facebook.