Totsiens, goeie ou Tjokkie!

  • 2
    like dit
  • 0
    like dit nie
Blogger:

Aldu Duminy

Daar's baie dinge in die lewe wat moeilik is. Skool is moeilik. Om vir jou boesem-pel te sê hy of sy is oorgewig en dis nou die tyd vir dieet, is moeilik. Skeinat is moeilik.

Pousekos is nóg moeiliker.
Ja, jy't reg gelees - dis moeilik om die regte peuselhappies saam te neem skool toe.

Gestel nou maar dis pouse: 'n koel briesie waai, al die vriende speel nog ewe lekker, en dan - dan kom die gróót vraag: "Kan ek 'n stukkie van jou Lunch Bar kry?" Dié Lunch Bar waarvan jy droom vandat julle in die wiskunde-klas oor pi en vierkantswortels gepraat het. Jy kan tog nie "nee" sê nie. Hoe sal dit nou lyk? Voordat jy jou mond kan oopmaak om te antwoord, verdwyn jou Lunch Bar stukkie vir stukkie: so asof pouses die tyd is waar kommunisme herleef word - wat die een kry, kry die ander. "Totsiens, tjokki. . ."

Leer vandag iets: Wine gums, Liquorice Allsorts, Mini Marie-koekies en Jelly Babies is taboe. Hoe makliker jy aan jou pousekos kan peusel, hoe meer hande sal daarna gryp. Die ideaal is dat jou skoolhappie met servette bedien word. Niemand wil tog hul skeinathuiswerk met tamatiesous en stroop besmeer hê nie?

Sjokolades wat in blokkies gedeel word, is net so 'n no go. Jy dink daar staan Cadbury op die bruin plesierblokkie, maar "Bettie die bedelaar" dink haar naam is daarop uitgekerf.

"Wat staan my nóu te doen?" Vind uit wat jou groepie se liplekkerhappies is. Daar behoort iets, hoe klein ook al, te wees wat niemand oor sy lippe wil toelaat nie. Daardie afkeer is dan jóú pousekos vir die res van die jaar. (Jy kan afslag kry as jy dit in grootmaat aankoop.)


As jy tevrede is om jou sjokolade-melkie in jou vriendekring rond te stuur, is dit seker fine. Gestel 'n tjokkie is jou eerste liefde: sterkte! En as jy die vloekwoord "nee" op daardie groot vraag antwoord, is jy in gevaar. Klaarblyklik noem jy mense wat daardie woord gebruik "suinig" of "gierig". Of, jy kan in die middel van jou bose, kommunistiese vriendekring die bruin goudstafie afskil . . . en dan, wanneer hulle uiteindelik kliek "Hier's kos!", begin hardloop en skree. Dís wanneer jy moet begin eet vir energie - jy gaan 'n hele entjie hardloop.

 Aldu Duminy is 'n JIP-joernalis.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar