Eers het ek nie geweet hulle kom in ons land voor nie.
Maar toe moes ek uitvind in Oudtshoorn is daar elke April 'n paar. Ek dink egter hulle is maar net 'n klompie geplooide tantes met eksotiese kostuums en 'n vuil pak kaarte wat hulle iewers uitgekrap het. Bewerig op die agterkant van 'n ou karton geverf: Fortune Telling.
Afgery KKNK toe en die plakkaat buite op hul ou woonwa geplak.
Ek en my vriendin staan vroeër vanjaar skepties voor so 'n woonwa. "Kan ek help?" het die sogenaamde gypsy met haar heesgerookte stem gevra.
"Ek doen palmlesings, tarot- kaarte en ek voel ook jou negatiewe aura aan," het sy haar onderneming geadverteer. Ek het nie juis belanggestel in wat sy doen nie, maar het beleefd gevra wie sy is en waar sy vandaan kom.
"Ek is 'n fortuinverteller en 'n swerwer wat agter positiewe energie aan trek," het sy misterieus probeer sê.
Maar die sticker agterop haar woonwa het haar weggegee - sy was van Boksburg.
My ervaring met die mense wat hulle as fortuinvertellers voordoen, het egter nie in die volstruisdorp gestop nie. Ek het nou die aand een ontmoet wat sommer so, sonder 'n eksotiese kostuum, kaarte of glasbal, sy "werk" probeer doen.
Hy het homself ongenooid aan ons tafel in 'n kuierplek kom tuismaak. Hy het my verskrikte vriendin se hand gegryp en aangekondig dat hy haar palm gaan lees. So sit hy vir 'n lang tyd met haar hand in syne en sê toe dat hy haar toekoms gelees het en beslis homself daarin sien.
My ervaring van fortuinvertellers is dus grillerige woonwa-bewoners wat geld wil maak uit die nuuskieriges, of grillerige mans wat om tafels in kuierplekke rondhang en aandag soek.
En gister het ek so amper-amper nog 'n fortuinverteller-"spesie" raakgeloop.
Ek het daar in die winkel by die haarprodukte gestaan. Twee verskillende boksies het in my hand gelê, die ene het permanent colour en die ander ene het enriched with colouring granules beloof.
Ek het op my onderlip gebyt en gewonder watter een nou eintlik werk . . .Skielik het 'n vreemdeling langs my gestaan, vriendelik geglimlag en met sy tong geklik.
"Darling, laat ek nou jou fortune vir jou vertel." Ek wou vir hom sê dat ek regtig nie geïnteresseerd is in wat die toekoms vir my inhou nie.
Hy het egter voortgegaan: "As jy daardie ene gebruik, gaan jy soos 'n geel latex kitchen glove lyk. Die ander produk gebruik ek al vandat ek 16 jaar oud is . . . it works every time".
Sonder om enigiets terug te vra, het hy toe parmantig weggestap.