Jody Reyneke, verlede jaar ’n uitblinker in die WP se Cravenweekspan, werk sy paadjie vorentoe. Foto: Marika Lochner
Brackenfell se Brakke het in sy interskole-kragmeting die afgelope naweek teen die Hoërskool Tygerberg aanvanklik die hardste geblaf met seges in die gholf, landloop, tafeltennis en hokkie.
Maar toe sê die Tiers tot hier toe en nie verder nie - en behaal weghol-seges in die belangrikste rugby- en netbalwedstryde.
Die hoofdis op die spyskaart, die o.19 A-rugbywedstryd, is een wat Brackenfell se manne nog 'n rukkie sal vat om te verteer. Die gasheer het Tygerberg met die wegspring mooi in toom gehou en tot 'n voorsprong van 17-6 met rustyd beperk.
Maar 'n algehele oorheersing in die tweede skof, waartydens 'n verdere sewe drieë ingeryg is, het die Tiers met 64-6 laat seëvier.
Travis Ismaiel (vleuel, 3), Basson van Eyssen (flank, 2), Neil Bruwer (vleuel), Hein Theron (flank), Dawie Brink (stut), Herman du Plessis en JP Rossouw (plaasvervangers) was die kuiergaste agter die doellyn, terwyl Dewald Claassen (heelagter, 5), Ian Heyns (senter) en Jody Reyneke (agtsteman) met sewe doelskoppe in die kol was. Vir die tuisspan het Raymond Olivier (losskakel) twee strafdoele behaal.
Ander rugby-uitslae: o.19 B: Tiers wen 27-0, o.16 A Tiers wen 3-0, o.15 A Tiers wen 31-10, o.14 A Brackenfell wen 24-0.
Op die netbalbaan het die "Tierinne" se eerste span met 26-11 en die o.19 B-span 19-12 gewen, maar Brackenfell se o.16 A (23-8) en o.14 A (18-5) was hul teenstanders voor.
Brackenfell was bobaas in sewe van die agt belangrikste hokkiewedstryde: 2-0 (o.19 A), 0-1 (o.19 B), 2-0 (o.16 A) en 4-0 (o.14 A) in die wedstryde vir meisies, en 1-0 (o.19 A), 3-1 (o.19 B), 4-0 (o.16 A) en 18-0 (o.14 A) in die kragmetings vir seuns. Ook in die tafeltennis (17-1), landloop en gholf (102-68 punte) was Brackenfell verreweg die beste daaraan toe.