Henko Roukema. Foto: Edrea Cloete
’n Jong Kapenaar is baie opgewonde oor sy reis na Switserland, waar hy homself sal voorberei op ’n moontlike ontdekkingsreis na die Inuït-gemeenskappe in Kanada.
Henko Roukema (18) van Durbanville is een van 16 jong mense wat gekies is om tien dae – van 12 tot 22 Junie – op die dorpie Chateaux d’Oex in die Alpe deur te bring.
Die kamp in Switserland vorm deel van die bekende ontdekkingsreisiger Mike Horn se Jeugontwikkelingsprogram (YEP).
Die 16 jong mense neem in Switserland deel aan ’n verskeidenheid aktiwiteite – soos bergklim, roei en abseil – en sal ook leer hoe om toue te knoop, kompasse en kaarte te lees en hoe om eerstehulp toe te pas. Hulle word ook geleer hoe om video’s te maak en foto’s te neem.
Dít alles ter voorbereiding vir ’n reis na Nunavut in Kanada, waar agt van die 16 saam met Horn deur die yswater gaan navigeer en die Inuït-gemeenskappe gaan besoek.
Roukema, wat maritieme studies aan die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie (KSUT) studeer, het gesê hy is baie opgewonde om mense van dwarsoor die wêreld te ontmoet.
“Ek sal ook baie graag vir Mike Horn wil ontmoet, want hy is een van die grootste ontdekkingsreisigers.”
Roukema is ’n ywerige branderplankryer en swemmer. Hy is ook ’n menseredder en neem deel aan kompetisies in ysige water, soos die Cadiz-swemkompetisies en die Speedo Africa Ice Swim naby Fraserburg.
“Ek het aansoek gedoen vir die YEP omdat ek graag meer oor die omgewing wil leer en my kennis dan in die plaaslike
gemeenskap wil terugploeg,” het hy gesê.
Hy deel reeds pamflette by swemkompetisies uit om groter omgewingsbewustheid by mense te kweek.