Ek sal nooit die laaste dag van matriek vergeet nie.
Ek het lekker gaan sit op die sypaadjie buite die skoolterrein met my skoolklere aan (iets wat meer verbode was by ons meisieskool as ‘n hygroman in ‘n klooster!), en saam met my vriendinne gewag vir ons ouers om ons te kom haal. Terwyl ons daar gewag het, het ek ewe trots deur die jaarblad geblaai, opsoek na my gesig, en plannetjies beraam vir die matriekvakansie. Ek het gedink ek's heeltemal reg vir wat vir my voorlê, in wat die onderwysers en my ouers, die ‘real world' noem. Ek meen, wat weet hulle tóg nou regtig?
Só bekruip realiteit my toe soos ‘n groot hoes in die kerk.... Ek het besluit om advertising by ‘n bekende Kollege in die stad te gaan swot, en moes elke dag treinry om daar uit te kom. Ek weet wat jy dink: "TREINRY! In Suid-Afrika?" Dis glad nie so erg as wat mense dink dit is nie- net normale mense soos ek en jy wat by hulle klasse en werke wil uitkom, sonder om vroeër dood te gaan weens N1 verkeerstres.
Ek het wel die vreemdste versameling mense op die trein teëgekom. Ek het een Vrydag ‘n man gesien wat ‘n diep gesprek met homself gevoer het- handgebare en al. Hy was besig om ‘n lang storie oor Apartheid te vertel (ek weet nou nog nie vir wie nie), en ten spyte van my pogings om nie aandag na myself te trek nie, het hy op ‘n stadium na my gedraai en vir my gesê "Jan van Riebeeck het ‘n Khoi vrou gehad, ja, en djy kon sy kjênd gewees het!"
Daar was natuurlik ook mense wat duidelik baie swaarkry in hulle lewens ervaar het. Op ‘n dag het ‘n man voor my kom sit op die trein, met drankwalms om hom wat my skoon dronk gemaak het! Hy het redelik netjies gelyk, ten spyte van die ou pak wat hy gedra het, maar toe hy sy hande op sy skoot sit, het my hart gesink. Sy hande en naels was baie vuil, asof hy vir lank in ‘n tuin gewerk het en vergeet het om sy hande af te spoel. Aan sy duim was daar ‘n goue ring waarna hy heeltyd gestaar het tot by die stasie waar hy afgeklim het. Dit was een van die vele kere wat die trein vir my gewys het hoe ongelooflik bevoorreg ek eintlik is.
Behalwe vir treinry was klasloop ook ‘n groot aanpassing. Ek het op skool presteer in Engels Eerstetaal, en het gedink dit sal genoeg wees vir hierdie nuwe Engelse Kollege waarheen ek gaan. Op die eerste dag het ek net 2 ander Afrikaanssprekende mense ontmoet, en met ‘n paar Ingelsmanne per ongeluk Afrikaans gepraat( ek het aanvaar dat hulle sal verstaan!) ‘n Paar vuil kyke later het ek soos Cady Haron in Mean Girls gevoel- ‘n "home schooled jungle freak" wat ‘n taal praat wat niemand verstaan nie.
Dit was ook besonder moeilik om elke dag kreatief te wees, en met innoverende advertensies vorendag te kom. Ons was herhaaldelik gewaarsku dat ons kursus baie moeilik gaan wees, en dat dit so naby aan die ‘real world' is as wat dit kan kom. Ek het gesukkel, en bloed gesweet, en ‘n hele paar keer gewens ek was op Universiteit besig om BA Bollemakiesie te swot. (Oh, how the grass is always greener!) Ek het met ‘n skok besef dat my skooldae verby is, en dat my ouers en onderwysers eintlik geweet het waarvan hulle praat.
Gelukkig het ek met die Ingelsmanne vriende geraak,en geleer om nie meer van "opgooi" te praat nie, maar van "chunder". Hulle het my Afrikaanse aksent aanvaar, nog steeds soms gegiggel as ek praat van "My jean" en nie ‘My jeanS' nie. Dan het ek maar net teruggekap met my gewone antwoord: "At least I'm bilingual". Zing! Ek wen.
Ek het geleer om die druk van my kursus te hanteer. Ja, soms bou die stres op en wil ek uit frustasie sommer ‘n paar mense backhand! Soms wil ek bietjie gaan huil in die hoekie, en my siel verdrink in vetterige kafeteria kos, maar mens kom oor dit. Na ‘n tydjie begin die druk jou motiveer om jou beste te doen. Ek het eenkeer hierdie aanhaling gelees in ‘n boek:
"A diamond is a chunk of coal that is made good under pressure." -Henry Kissinger.
Jy moet net besluit of jy ‘n stuk steenkool of ‘n diamant wil wees.