Teenspoed en fiemies by Egipte se kospotte

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Blogger:

Aldu Duminy

My ma en 'n kookboek sit geensins langs dieselfde pak meel nie. Dis nie dat sy nie kan kosmaak nie, dis net dat sy nie altyd doen wat sy veronderstel is om te doen nie.

Daar het al baie interessante chemiese eksperimente in ons kombuis plaasgevind. Eenkeer het sy beskuit gebak wat ons Isuzu-bakkie se staalversterkte bande nie eens kon verkrummel nie.

Gedurende my sestien lewensjare het ek begin gewoond raak aan hierdie "geregte" - om die waarheid te sê, ek verkies dit bo dié van vreemde tafels.

Die ding waarvoor ek die bangste is in dié wêreld, is om by "vreemde" mense te gaan eet. Wie weet wat alles in die kospotte van kennisse skuil? Wat as die geselskap smaak verloor?

Ek onthou die één ete-uitnodiging spesifiek: Ons het almal aan tafel gesit. Die ergste woorde wat moontlik gesê kon word, was: "Ek sal sommer vir jou inskep. . ."
Ek wonder of Jurie Els weet hoe sê 'n mens nee dankie onder sulke omstandighede? Ek kon saamleef met die aartappel- en mengelslaai, brood en hoenderwors, maar toe die skaaptjoppie my bord tref, het ek geweet: dit gaan nie werk nie.
Die oomblik toe die geselskap bietjie opvlam, het ek die tjoppie diplomaties in die servet op my skoot laat val, dit subtiel toegedraai en dit versigtig in my broeksak gesteek.
Ja, dít is die soort trauma wat ek deurmaak wanneer ek by "vreemdelinge" gaan eet. Die onskuldige vleisie het in ons hond se bak beland. Bon appetit!
Dis nie dat ek vol fiemies is nie - ek hou net niks van skaapvleis nie. Dieselfde geld "tuisgemaakte" produkte. 'n Tannie wat tuisgemaakte wors maak, het dieselfde gedoen.
"Hierdie ‘wors-fabriek' was nie onder die oë van die gesondheidsinspekteur nie. . ."
Om 'n lang worsie kort te byt; ek het nie my lippe daaraan gesit nie.

Mense is tog altyd so gasvry as daar saamgeëet word. Daar word uitgedeel asof dit die "vet jare" is. Daar moet áltyd nog 'n skeppie aan die einde van die maaltyd wees.

Hoe meer jy probeer verduidelik dat jy versadig is, hoe dieper druk die tannie jou in 'n hoek met vreemde gestolde komkommerslaai.

As daar eendag mense by jou eet, vrá of hulle nog iets wil hê, maar aanvaar dat "nee dankie" nie beteken jou kos was onsmaaklik nie.

Ek weet nie of jy al ooit opgelet het nie, maar die eerste woorde wat opklink ná tafelgebed en die eerste happie is: "Dankie. Die kos is héérlik! Jy moet tog die resep vir my laat kry."

As ek dink hoeveel resepte my ma al langs die tafels móés kry, was daar al 'n nuwe Kook en Geniet op die rak. . .

Maar ek moet bieg, dis beter om in sulke tye saam te praat en te maak asof jy volmondig saamstem. Moet net nooit te oortuigend wees nie, anders kry jy dalk nog padkos ook.

Ek is regtig nie vol fiemies nie. Inteendeel, ek is 'n baie maklike mens. Dis juis om dié rede dat ek veel eerder my ma se 3 cm hoë plaatkoeke bo tuisgemaakte volstruiswors verkies.

Aldu Duminy is een van JIP se JJ's en 'n leerder aan die Hoërskool Langenhoven in Riversdal.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar