Tamatiesous, ‘finish’ en klaar

  • 3
    like dit
  • 0
    like dit nie

Ek het dit al telkemale oorweeg om ánder keuses in die lewe te maak.

Maar weet jy wat, die lewe is kort en ek gaan nie toelaat dat groepsdruk in die pad van 16 minute en 20 sekondes van plesier staan nie. Dis nou tussen my en my hoenderburger met sampioensous en tjips.

Ek gee toe dat verandering en variasie soms die antwoord is om uit jou gemaksone te kom. 'n Mens moet elke maand 'n nuwe fliek gaan kyk of 'n nuwe musiekgroep beproef. Maar as ek na 'n eetplek gaan, kyk ek nie eens meer na die spyskaart nie, al is ek by Ocean Basket.

'n Hoenderburger met sampioensous sal my laaste maaltyd in 'n tronk wees.

Dit is eenvoudig wie ek is.

So loop ek my een aand by 'n fênsie plek vas. Jy weet, daar waar die servette op jou skoot gevou word en waar jy nie 'n duit kan uitmaak wat die doel van die 12 messe en vurke om jou bord is nie.
Die plek is so eksklusief dat ons 'n maand voor die tyd 'n tafel moes bespreek. Die kos is so buitensporig duur dat ek daardie hele week droë beskuitjies geëet het. Die hoenderburgers was so afwesig op die spyskaart dat daar vir my geen uitkomkans was nie.
Vanaand was dit ek en steak - finish en klaar.

Maar ek vra toe vir tjips by steak. Net om my mond te laat nederig voel.
En ek maak die fout om vir All Gold-tamatiesous te vra.

Die kelner is skaars weg of my vriend gluur my woes aan.
"Moes jy nou régtig vir tamatiesous vra? Híér? Van alle plekke? Kon jy nie dit maar gelos het nie? Jy kan mos sien dit pas nie by die tafel nie!"

Duidelik het ek die tannie Emsie Schoeman-etiketwenk gemis dat tamatiesous nie cool is nie. Maar ek wou met my tjips sirkels in die tamatiesous draai, veral omdat ek nie my hoenderburger kon kry nie.

Het dit nie met jou ook al gebeur dat jy jouself moet dwing om "in te pas" nie? 'n Vinnige skyf trek, want jy wil nie soos 'n seer oog uitstaan nie. Of 'n Jack-en-lime koop, want jy sien niemand staan met 'n Coke in die hand nie.
Of wou jy selfs al só grênd wees dat jy Engels in plaas van Afrikaans praat?
Hoekom het die mensdom 'n hunkering na iets wat hulle nie is nie?

Ek kies my tamatiesous en hoender-burger, dankie.

Hoekom probeer ons so hard inpas, as ons gebore is om uit te staan?

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar